Dagstuk | Saterdag 20 Januarie 2024

Dagstuk | Maandag 22 Januarie 2024
Dagstuk | Vrydag 19 Januarie 2024

Teks:Johannes 16:33

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

GEDAGTE

Vandag wil ek vir jou sê dat God se vrede vir ons die moed gee om volheid te lewe. Die Hebreeuse woord vir vrede is shalom. In die Hebreeuse taal dra die woord vrede of shalom ook die betekenis van volheid. Hierdie vrede wat ook volheid beteken, kan ek net van God ontvang. Hy het Sy Seun Jesus gestuur na die aarde om ons hierdie ware vrede te gee. ‘Vredevors’ is een van die titels waardeur Jesus aan ons bekend geword het (Jesaja 9:7). Met sy geboorte het die engele vir die herders op Betlehem se velde toegesing met: ‘….. vrede op aarde …..’(Lukas 2:14). Jesus het ook later gesê: : ‘ Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moenie ontsteld wees nie en julle moenie bang wees nie’ (Johannes 14:27).

Die vrede van Jesus is gevulde vrede, maar nie gevul met ontsteltenis of vrees nie. Die verwarring oor hoe die wêreld vrede verstaan en die vrede wat Jesus kom bring het, word opgeklaar wanneer mens besef dat die twee in der waarheid lynreg teenoor mekaar staan en hemelsbreed van mekaar verskil. Die vrede waarvan Jesus praat is nie noodwendig die afwesigheid van een of ander stryd of oorlog nie, maar Jesus se vrede is altyd vrede te midde van alle omstandighede, goed of sleg. En die vrede wat volmaak is dryf die vrees en bangwees uit.

Niks en niemand kan my van God se liefde skei nie! (Romeine 8:35-38). Daarom kan jy in 2024 met moed lewe. Hierdie vrede behoort ook aan jou. Die teken van hierdie hemelse vrede is dat Jesus die Vors is, ’n Baba in ’n krip en ’n magtelose man aan zn kruis! Hierdie vrede is nie deur krag en geweld nie, maar deur die Heilige Gees in my hart en lewe uitgestort!

GEBED

Dankie Here, dat ek nou u hemelse vrede kan ontvang. Daarom kan ek ook met moed hierdie jaar instap.

Amen.