Dagstuk | Saterdag 21 Desember 2024

Dagstuk | Vrydag 20 Desember 2024
Dagstuk | Maandag 23 Desember 2024

Skrifgedeelte:  Matteus 1:18-25

As Matteus die eerste keer van Josef praat, vertel hy dat hy ‘n man was “wat die wet van Moses gevolg het”. Matteus sê dit nie in soveel woorde nie, maar ’n mens kan aflei dat Josef ‘n man was wat altyd die regte ding wou doen, wat nie golwe gemaak het en nie gehou het van kontroversie nie. ‘n Man wat soos baie van ons net ‘n normale ongekompliseerde lewe wou lei.

Sy hele lewe is onderstebo toe hy hoor sy verloofde is swanger en dis nie sy kind nie. Ek dink dit sal ‘n fout wees om te onderskat hoe moeilik die besluit wat Josef moes neem, moes wees. Los hy vir Maria, of bly hy gehoorsaam aan hierdie droom. Matteus brei nie vreeslik hierop uit nie, maar soos met enige moeilike besluit in die lewe, kon dit nie vir Josef maklik wees nie. Wat God van hom gevra het, was om alles wat Josef gedink het reg, goed en heilig was, op te gee en ‘n vrou lief te he wie se storie hy nie geken het nie, en ‘n kind te beskerm van wie hy nie die pa was nie.

Geen wonder Gabriël se eerste woorde aan Josef was ”Moenie bang wees nie”. As ons in God se storie wil tree, ‘n storie was soms deurmekaar en morsig is, moet ons ook mekaar aan hierdie woorde herinner. Moenie bang wees, as God se werk in ons lewe anders is as wat ons verwag het nie. Moenie bang wees as God van ons vra om ons voorveronderstellings op te gee en om iets nuut te sien wat God vir ons wil wys nie. Moenie bang wees om iets of iemand lief te hê, wat so anders is as wat ons is. Moenie bang wees vir dit wat broos, weerloos of onmoontlik is nie. Moenie bang wees vir die deurmekaarheid van die lewe nie, want dis in die morsigheid van lewe wat God gebore word.