Dagstuk | Saterdag 21 September 2024

Dagstuk | Vrydag 20 September 2024
Dagstuk | Maandag 23 September 2024

 

Johannes 8:32. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.

Wat is vandag die waarheid? In ons wêreld van nuwe en vinnige kennis en verandering het die antwoord op hierdie vraag vir gelowiges onduidelik geword. Christene voel ontnugter deur ou waarhede wat skielik vandag nie meer geld nie en gelowiges beskuldig mekaar van dwaal leer. Toe Jesus in die teksgedeelte met die Jode gepraat het, het Hy hulle van ‘n waarheid beroof waaraan hulle styf vasgehou het, naamlik – hulle identiteit as kinders van Abraham het hulle God se kinders gemaak. Dit was nie verkeerd nie, maar hulle het nie rekening gehou met die waarheid dat nie-Jode (heidene) ook by hierdie verbond ingesluit is nie. Wanneer Jesus oor die waarheid praat beskryf Hy dit nie ‘n vaste reël of wetmatigheid nie, maar iets wat ontdek word soos wat mense vir Jesus gevolg het en sy teenwoordigheid hulle in staat getel het om die waarheid vir hulle hede oop te breek. Dit is wanneer die waarheid ons vry maak soos die teksgedeelte daaroor getuig. Wanneer ons die Heilige Gees toe laat om deur ons eie waarhede te breek.

Dit wou sy Joodse gehoor nie aanvaar nie. Daar is ‘n baie groot verskil tussen ons eie godsdienstige oortuigings en die waarheid waarvan Jesus in hierdie gedeelte praat. Is ons bereid om Jesus te volg en in die proses verander te word? Soos in die skare wat in Johannes verstom gestaan het oor hoe Jesus die owerspelige vrou vryspreek en ‘n nuwe waarheid vir hulle oopbreek.

 

Gebed

Here, wees my genadig en help my om myself te sien in die helder lig van u heiligheid  – sodat die waarheid oor my sondige aard, wat ek met trots en verwaandheid probeer verberg aan die lig sal kom. Here,  vir wie daar geen geheim bestaan nie, konfronteer my met die valshede en maskers waarmee ek myself en ander probeer mislei. Here, reinig my. Here laat my groei, leer my om U in waarheid en in die lig te dien.