Dagstuk | Saterdag 24 Februarie 2024

Dagstuk | Maandag 26 Februarie 2024
Dagstuk | Vrydag 23 Februarie 2024

Teks: Habakuk 2:20

Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees

GEDAGTE

Hoe groot is God werklik? Waartoe is Hy in staat? Hoe kan ons ooit meet en waarteen sal ons Hom kan meet? Ons kan welvaart en rykdom meet en sê iemand is 10 biljoen rand sterk. Maar hoe sal ons God se grootheid kan uitdruk? Seker onmoontlik! Die enigste reaksie is stille verwondering. Soms is die enigste toepaslike reaksie op God se heiligheid stille eerbied.

Bonaventura, ’n 13e eeuse biskop, teoloog en filosoof, het van God gepraat as “die Een wie se middelpunt oral is en Sy omtrek nêrens”. Daarom, sê hy, is die oorsprong, grootsheid, veelvuldigheid, skoonheid, volheid, aktiwiteit en orde van alles wat geskep is, die “voetspore” en “vingerafdrukke” van God.

Waar word jy bewus van God se grootheid en almag? Waar slaan dit jou asem weg? Waar laat dit jou in stille verwondering? Soek na hierdie plekke waar jy in stilte God se grootheid kan inasem en jou siel ryklik kan verkwik.

GEBED

Ek wil stil wees, Here en op U wag. Ek wil stil wees dat ek kan verstaan wat in U wêreld gebeur. Ek wil stil wees om na aan die dinge te kom, aan al u skepsels, en hul stemme te hoor. Ek wil stil wees dat ek onder die baie stemme u stem kan herken. ―Toe alle dinge in diepe swye gewag het‖, sê die Woord, ―het van die goddelike troon, o Here, u almagtige woord gekom.‖ Ek wil stil wees en my daaroor verwonder dat U vir my ‘n woord het. Here, ek is nie werd dat U na my toe kom nie, maar spreek net een woord, dan word my siel gesond. Amen (Jorg Zink)