https://youtu.be/Df1KMOa833Y
God wat ons op reis stuur
Genesis 12:1
“Die Here het vir Abraham gesê: ‘Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie, na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.’”
Vandag se teks resoneer die boodskap van die afgelope week se tekste oor ontmoetings met God: Epifanie-oomblikke bring ons by plekke en tye uit wat ons self nie voorsien het nie. Soos Abraham, Moses, Jesaja, Jakob en die Emmausgangers, lei en inspireer die Here ons telkens om die onsekerheid van die hede en die toekoms in te gaan.
Sulke oomblikke herinner ons dat God nie iewers by ’n einde vir ons wag nie. Hy is die God wat ons op reis stuur en voortdurend die pad saam met ons stap. Klaagliedere 3 skryf dit mooi:
“Ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here, maar deur die liefde van die Here het ek nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie — dit is elke môre nuut.”
Ontmoetings met God is nie skaars nie, en lê nie net aan die einde van ons reis nie. Die liefde van God wat in ons deurbreek, vergesel ons deur sonskyn en reën, goeie en slegte tye. Dit is vars en nuut elke môre.
Hoe praat hierdie waarheid vandag met jou, te midde van jou reis deur die lewe?
Getroue God,
ons dank U dat ons nie vergaan nie, want u liefde het geen einde.
U ontferming raak nooit op nie — elke môre is dit nuut.
Wanneer ons moeg wakker word, of swaar dra aan gister se laste,
herinner ons daaraan dat U ons vandag weer tegemoetkom
met genade wat vars en lewend is.
Leer ons om elke nuwe dag uit u hand te ontvang,
nie vasgevang in skuld of vrees nie,
maar vas in u trou.
Laat u liefde ons dra deur die gewone ure van die dag,
en u hoop ons rig wanneer die pad onseker word.
Groot is u getrouheid, Here —
in die môre, in die middag, en tot in die nag.
Ons vertrou onsself en hierdie dag weer aan U toe.
Amen.