Matteus 5:1-3. 1Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê: 3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Ek lees vir ons ‘n gebed van die teoloog Eddie Osmond in refleksie op hierdie teksgedeelte:
Here, U leer ons om vir “vandag” te bid, vandag se lewensasem,
Vandag se behoeftes,
Vir genoeg van wat nodig is,
Vir tevredenheid met wat U gee,
Vir werksgeleenthede en fisieke gesondheid-
Alles as tekens van u sorgende liefde,
Nie as simbool van eie prestasie nie.
Leer my, o Vader, die lewenshouding om vanuit u hand te lewe in plaas van my eie, valse sekuriteite te vertrou.
Leer my om te lewe volgens die ekonomie van genoeg-
Genoeg lewensmiddele vir vandag,
Niks meer nie.
‘n Ekonomie met ‘n hart vir armes en tuisteloses.
Ons bid vir elke dag se brood, omdat ons daarvoor van U afhanklik is,
En ons weet die behoefte sal more maar weer ontstaan.
Ons Vader, leer ons afhanklikheid van U.
Amen