1 Korintiërs 15:55 en 58
Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? Daarom liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.
Die hede van hierdie Paasfees word omarm deur twee groot oomblikke. Ons kyk terug in die verlede na Jesus wat gesterf het en uit die dood opgestaan het en in die toekoms leef ons met die seker wete dat ons gaan sterf en leef met die verwagting van ewige lewe. Ons kan nie in die verlede inkyk om Jesus se opstanding te sien nie en ook nie in die toekoms verby die dood na waar ewige lewe wag nie. Paulus skryf in 2 Kor. 5: Ons wil nie van ons aardse lewe afstand doen nie en die hemelse bo-oor die aardse aantrek. God help ons met hierdie oorgang – as waarborg gee Hy ons die Heilige Gees. Voel jy soms vasgevang in die lewe tussen die belofte van die hemelse en realiteite van die aardse? Alhoewel daar so baie is wat ons nie kan sien nie – kan ons die realiteit beleef dat niks in hierdie skepping ons van die liefde van God kan skei nie. Dit is nie net ‘n gedagte of troos nie, maar die krag van die Here se opstanding vir vandag wat ons in staat stel om standvastig, onwankelbaar en oorvloedig in hierdie hede te kan leef. Hoe is die Here se Gees in die midde van jou hede besig om jou so te ontmoet en te inspireer?
Gebed
Here, ons kom voor U in ‘n oomblik van nederigheid en stilte, bewus van die siklus van lewe en dood wat U met wysheid geskep het. U het die lewe gegee, Here, en ons weet dat elke lewe sy volheid vind in U. In tyd van rou en verlies, herinner ons ons daaraan dat die dood nie die einde is nie, maar ‘n nuwe begin in U ewige teenwoordigheid. As ons getroos word deur die belofte van die opstanding, bid ons vir die moed om te leef in die lig van hierdie waarheid. Mag ons elke dag met dankbaarheid vul en dit met vreugde in u diens, leef. Help ons, Here, om u teenwoordigheid en u liefde te ervaar, selfs wanneer ons deur die donkerste valleie van verlies en hartseer stap. Laat ons altyd vashou aan die hoop van die ewige lewe wat ons in Christus Jesus gevind het. Ons vra dat U ons harte kalmeer en ons gemoedere versterk soos ons U wil soek in beide lewe en dood. Here, mag U ons lei op die pad na u ewige lig en vrede.
Amen.