Dagstuk | Saterdag 29 Junie 2024

Dagstuk | Vrydag 28 Junie 2024
Dagstuk | Maandag 1 Julie 2024

https://youtu.be/b7palgxv_wE

Psalm 145:8-9. Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.

Hierdie week se oordenking uit die Psalms was bedoel om ons te help om op ‘n eenvoudige en praktiese manier oor God se teenwoordigheid in ons midde na te dink. Daar is nie ‘n beter manier as om dus met hierdie teks af te sluit nie. Dat die Here genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde is, is vir ons groot troos en gawe om vanuit te leef. Maar die teksgedeelte nooi ons midde hierdie besef na iets groot uit, naamlik die besef dat God is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het. Hoe versoen ons hierdie waarheid met die hede waarin ons leef?

Week na week kom Christene in kerke bymekaar om weer herinner en verseker te word dat God vir ons sorg. Die woord “lankmoedig” wat in die teks gebruik word is kragtig want dit herinner ons dat God nie uit ongeduld  of woede reageer nie, maar toegeeflik is. Hoe raak dit jou as vandag se teks ons herinner dat hierdie selfde sorg ook vir alles geld wat God geskep het? Die persoon wat hierdie loflied sing beskryf God in vers 3 as “ondeurgrondelik”. Alhoewel die omvang van God se goedheid ons verstand te bowe gaan, dring dit op praktiese en verstaanbare maniere tot ons deur om aan hierdie groot genade, barmhartigheid, lankmoedigheid en liefde gestalte te gee.

Gebed

Here, ons aanbid U as die Skepper van hemel en aarde. Maar die werklike implikasies van hierdie belydenis en geloof gaan maklik by ons verby. O Gees van nuwe lewensmoontlikhede transformeer vandag my gedagtes en geloof oor die grootheid van u wese en waartoe U in staat is. Alhoewel ek nie die omvang van u liefde, genade en geduld kan begryp nie kan ek diep onder die indruk daarvan leef en dit toelaat om my so te transformeer dat hierdie eienskappe ook deel van my eie menswees word. Bewaar my van die oppervlakkige oordele oor mense wat my geloof vergesel en u grootheid in hierdie wêreld verduister. Bring my in die kragveld van die eenvoud van u goedheid waardeur ek vandag my hede kan transformeer. Amen.