Dagstuk | Saterdag 29 Maart 2025

Dagstuk | Vrydag 28 Maart 2025
Dagstuk | Maandag 31 Maart 2025

https://youtu.be/A_dMRasIenA

Johannes 8:12

12Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Refleksie

Lig is nie bang vir die duisternis nie. As ons Jesus se lig het, hoef ons nie die duisternis te vrees nie, maar word ons juis geroep om ’n lig te wees in ’n wêreld gevul met duisternis. Lig is nie nodig wanneer die son skyn nie – lig is juis nodig in die donkerte. Soos wat ons elke week nader aan die donkerte van die kruis stap, mag ons herinner word dat lig juis die helderste skyn wanneer dit donker word.

Ons sit ook nie ’n lig aan om na die lig te kyk en te sê: “kyk hoe mooi is die lig nie”, maar om die wêreld rondom ons te verlig en alles anders beter te sien.

C.S. Lewis het gesê: “I believe in Christianity as I believe that the sun has risen: not only because I see it, but because by it I see everything else.”

Net so word ons geroep om ’n lig te wees wat skyn in die duisternis, nie sodat almal ons kan sien nie, maar sodat ons ander se lewens kan verlig, om hulle te help om te sien.

Mag die lig van Jesus ons lei om in hierdie lydenstyd ander mense se lewens te verlig, nie net sodat hulle vir Christus kan sien nie, maar dat hulle, deur die lig van Christus, alles anders kan sien.

Gebed

Here Jesus, dankie dat U die lig is wat in ons donker tye skyn. Help ons om hierdie lig te dra waar daar nood is, en ander na U liefde en genade te lei. Lei ons om die lig van lewe te deel met diegene wat dit die meeste nodig het. Amen.