Ek sal vir hulle ‘n onverdeelde hart gee. ‘n Nuwe gees sal Ek in hulle binneste laat posvat. Ek sal die hart van klip uit hulle liggame verwyder, en Ek sal vir hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle my vaste voorskrifte sal volg en my beslissings sal nakom en uitvoer. Hulle sal vir My ‘n volk wees en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
As gelowiges moet ons op ’n sekere manier lewe. Almal moet duidelik kan sien dat jy lewe soos iemand wat ’n roeping van die Here het. Dat God se Gees jou nuut gemaak het. Dít is presies die opdrag wat ons in Efesiërs 4:22-24 kry: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”
Daarom wil ek vir jou persoonlik kom vra: “Is jy ‘n nuwe mense in Jesus Christus? Watter prent is jou lewe tans? Watter verskil het jou ontmoeting met die Here Jesus in jou lewe gemaak? Watter verskil het jou bekering, jou wedergeboorte, in jou lewe kom maak? Hoe lyk jou lewe op hierdie stadium? Kan mense deur na jou lewe te kyk sien dat jy ‘n nuwe Gees in jou het
Voor jy die jaar verder instap, bid dalk die volgende gebed saam met Dawid. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer.
Net U kan, Heer, my verlorenheid keer
AMEN