Dagstuk | Saterdag 4 Mei 2024

Dagstuk | Maandag 6 Mei 2024
Dagstuk | Vrydag 3 Mei 2024

Vandag is Saterdag 4 Mei en hierdie week is ons baie opgewonde om die bekende Hettie Brittz komende Sondagaand om 19:00 by Stellenberg-gemeente te ontvang met haar boek wat verwerk is met die tema: Kweek kinders met karakter. Dus is ons die week saam op reis opsoek na Bybelse waarhede en wyshede oor karaktervorming binne ons elkeen se lewens.

1 Timoteus 4:12 “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.”  Moedig jou kind aan om ’n positiewe invloed te wees vir ander deur hul gedrag en hul liefde vir God te wys. Elkeen het die vermoë om ‘n verskil te maak, maak nie saak hoe oud hulle is nie. Daarom is die uitnodiging nie net vir Timoteus of jongmense nie, maar vir elkeen van ons om so te leef dat ander die liefde van Christus in ons kan sien en vra wat is die hoop wat in ons leef?

Wysheid: Liefde en ondersteuning. Bied ’n omgewing van liefde, ondersteuning en aanmoediging. Binne ’n veilige en liefdevolle omgewing kan kinders en selfs ons as volwassenes die selfvertroue ontwikkel om ons karakters ten volle te ontvou. Deur hierdie week se wyshede te beoefen en te omhels, kan ons en ouers ‘n sterk en positiewe invloed hê op die karakterontwikkeling nie net van ons kinders nie, maar ook van ons samelewing.

Gebed: Here, gee vir ons en ons kinders ‘n honger na wysheid en begrip. Mag ons strewe na kennis wat diep gewortel is in u Woord. Help ons om wyse besluite te neem en om te groei in verstandelike en geestelike rykdom. Laat hierdie gebede ons omring met u seën en leiding terwyl ons groei in karakter en geloof. Amen.