Dagstuk | Saterdag 6 Januarie 2024

Dagstuk | Maandag 8 Januarie 2024
Dagstuk | Vrydag 5 Januarie 2024

1 Tess 5:18- Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

As goeie goed met ons gebeur is dit vir ons makliker om dankbaar te wees. As Henri Nouwen, die Katolieke geestelike skrywer oor dankbaarbaarheid skryf herinner hy ons daaraan dat dankbaarheid ’n lewenshouding is. ’n Dissipline om elke dag te erken dat alles wat ek is en wat ek het, aan my gegee word as ’n gawe van liefde wat gevier moet word. Maar om so na die lewe te kyk en dit met dankbaarhedi te ontvang is nie vir ons almal altyd maklik nie. As die harde kant van die lewe aan ons skuur voel dit nie altyd soos ’n gawe nie en dit kan ons laat twyfel aan God se liefde.

Ek dink die kuns van die lewe is dan om te doen dit waarna Paulus ons uitnooi. Om in alle omstandighede nogsteeds dankbaar te wees vir alles wat God ons skenk.

En dít omdat ons steeds die groot onsienlike misterie bly glo dat daar ‘n God is wat oor ons waak. ‘n God wat na ons omsien. Ook dat hierdie God, soos die Duitse teoloog, Helmuth Thielicke dit eenmaal gestel het: “Hoër gedagtes oor ons lewe koester wat ons vanuit ons aardse perpektief en verwagtinge nie altyd kan verstaan nie”. Sodat ons op ’n dag ontdek dat  die slegte en swaar in my lewe ook ten goede is. Dan sal ons ervaar dit waarvan broer Roger van Taize vertel:”That in the same wound where the pain of anxiety festers, the energy for loving is also born.”

Sodat ons ook vir ons wonde dankbaar begin raak. Miskien selfs nog meer as vir al die goeie dinge wat ons besit.

Mag ons hierdie dissipline bly inoefen om in alle omstandighede en vir alle dinge dankbaar teenoor die God te bly.