Dagstuk | Saterdag 7 September 2024

Dagstuk | Vrydag 6 September 2024
Dagstuk | Maandag 9 September 2024

https://youtu.be/AIDygT7td5o

Vandag is Saterdag 7 September en ek verwelkom jou graag by hierdie week se oordenkings. Dit is lente en ons begin stadig maar seker ’n oorgang maak na die somer soos wat ons oor die drumpel van ‘n nuwe seisoen beweeg. In die derde kwartaal fokus ons op ons gemeentewaarde: Om ’n verskil in die wêreld te maak en Septembermaand help ons om ’n spesifieke fokus te hê op die seisoen van skepping. Vandag reflekteer ons oor die verhouding tussen die skepper en skepping. Ons teksgedeelte is:

Genesis 2:1-3

Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

In Genesis 2 sien ons hoe God na ses dae van skepping op die sewende dag rus. Hierdie rustyd was nie omdat God moeg was nie, maar omdat Hy die voltooiing en die orde van Sy skepping beskou het as “baie goed”. God het die sewende dag as ‘n dag van rus en seëninge gekies, wat ons ‘n model gee vir hoe ons die belangrikheid van rus en herstel moet benader.

Rus is nie bloot ‘n onderbreking van aktiwiteit nie, maar ‘n manier om te reflekteer op die skepping en die orde wat God bewerk het. Dit is ‘n tyd om te erken dat God in beheer is en dat ons, as sy skepsels, nodig het om sy voorbeeld van rus te volg sodat ons balans en vrede in ons eie lewens kan ervaar. Dink  vandag na oor die manier waarop jy God se voorbeeld van rus in jou lewe kan toepas. Besin oor hoe rus jou kan help om beter te fokus op God en Sy werk in jou lewe.

Wysheid vir vandag: Neem tyd om stil te wees.

Vind ‘n plek in die natuur, of dit nou ‘n park, tuin, of selfs jou agterplaas is, en neem ‘n oomblik om in stilte te sit. Laat jou gedagtes rus en fokus op die geluide en gesigte om jou. Soms is stilte die beste manier om die wonder van die skepping te ervaar.

Gebed
Jesus Christus, deur U is alles geskep. Ek dank U vir die pragtige skepping wat U gemaak het en vir die rol wat U in elke aspek van die natuur speel. Help my om my verhouding met U te versterk en om U skepping met eerbied en liefde te behandel en te versorg. Amen.