Dagstuk | Vrydag 12 April 2024

Dagstuk | Saterdag 13 April 2024
Dagstuk | Donderdag 11 April 2024

Vandag is Vrydag, 12 April en in hierdie week reis ons saam deur die laaste deel van die gemeente se geloofsbelydenis: Om voordurend te vernuwe.

Ons het hierdie week begin deur te fokus op die feit dat ons deur Jesus se kruisging, dood en opstanding nuwe mense geword het wat deur God se bril na die wêreld moet kyk en om dit te doen is dit nodig om tyd te maak vir God en by sy voete te sit.

Ons almal vorm deel van een liggaam waar Jesus Christus die hoof is en almal vir God ewe belangrik is.

Kom ons lees Efesiërs 4 vers 1 tot 6 saam:

1Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

Deur die teks probeer Paulus ons uitnooi om te besef dat God in alles en almal woon en dat ons dus moet omsien na alles en almal en ook alles en almal met liefde, genade en respek moet behandel. Ons moet omsien na mekaar en mekaar met baie liefde hanteer, maar ook moet ons omsien na die gemeenskap rondom ons en die naturskoon waarmee die Here ons elke dag seën. Om as nuwe mense te lewe word ons uitgenooi om orals op te tree soos Jesus sou optree en almal dieselfde te hanteer want almal is tog ewe belangrik vir Jesus.

Die teks wys ook vir ons dat as ons nader aan God groei en tyd maak vir hom sal ons nader aan mekaar groei. God het ons meer lief as wat ons ooit kan dink en dus met dieselfde liefde van God nooi God ons uit om ander mee te hanteer.

Ek wil julle vandag uitdaag om in jul stiltetyd weer die teks te lees en neer te skryf wat vir jou uitstaan.

Kom ons bid saam:

Here, help ons om vandag nuut te lewe en na die wêreld te kyk deur u bril. Here help ons om na mekaar en na die aarde om te sien en almal met dieselfde liefde, genade en respek te behandel. Dankie Here, dat ons weet dat ons vir U so belangrik is dat U vir ons aan die kruis gesterf het. Here dankie vir u liefde vir my.

Amen