Tema: “Die Here is My Krag”
Bybelteks: Jesaja 40:31 — “Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
GEDAGTE
Teen hierdie tyd van die jaar is dit maklik om tekens van moegheid en selfs moedeloosheid by mense raak te sien. Die druk van die lewe neem gewoonlik teen die einde van die jaar toe.
Jaareind-moegheid is ’n wesenlike verskynsel wat elkeen in die arbeidsmark raak. Dit word veroorsaak deur ’n kombinasie van faktore: groter werkslading, stres om alles gedoen te kry, en die onvermydelike stryd om voor die vakansie alles af te handel. Van Oktober af voel dit dikwels asof daar nog soveel oorbly om te doen, en dit kan jou moeg, geïrriteerd en oorweldig laat voel. In ernstiger gevalle kan dit selfs tot uitbranding lei.
Hierdie moegheid word dikwels veroorsaak deur die voortdurende jaag na spertye en take, en die feesseisoen wat voorlê kan dit verder vererger. Daarby kom die terugskouing van die jaar—’n tyd waarin jy dalk voel jy het nie al jou doelwitte bereik nie. Sommige van ons is net moeg en moedeloos—moeg vir die gesukkel, moeg vir die baklei, moeg vir hartseer, moeg vir bekommernisse, moeg vir die lewe.
Dan is vandag se teksvers ’n bemoediging: dié wat moeg is, kan nuwe krag by die Here kry. Die Here wil dié wat moeg en moedeloos is, versterk sodat hulle die wedloop van die lewe met geloof, oortuiging en entoesiasme kan voorthardloop. Skep moed! sê die Here. Skep moed in jou hartseer, in jou siekte, in jou bekommernisse, in jou moedeloosheid en moegheid, want Sy teenwoordigheid maak die verskil. Hy gee die vermoeides krag—sterkte vir die laaste stukkie van die jaar.
GEBED
Here, soos hierdie jaar tot ’n einde kom, dank ek U dat U my deur elke hoogte en diepte gedra het.
Gee my hernude krag vir die dae wat voorlê—krag in my liggaam, vrede in my gedagtes en moed in my gees.
Help my om te laat gaan wat ek nie kan verander nie, en om met hoop, geloof en veerkragtigheid die nuwe jaar in te stap.
Amen.