Dagstuk | Vrydag 13 Desember 2024

Dagstuk | Donderdag 12 Desember 2024
Dagstuk | Saterdag 14 Desember 2024

https://www.youtube.com/watch?v=J3z2dlot-XA

Ons is in die tweede week van Advent, die week van vrede. In hierdie week wat voorlê, dink ons na oor vrede.

Johannes 16:33 (Afr. 83)

‘Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”’

Refleksie

Jesus maak dit duidelik dat sy vrede nie afhanklik is van omstandighede nie. Inteendeel, hy gee vir ons vrede te midde van die moeilike dinge wat ons in die wêreld beleef. Vrede is nie vrede in die afwesigheid van konflik nie, maar juis te midde daarvan.

Die teoloog Peter Rollins is lief daarvoor om die opmerking te maak dat oorlog nie konflik is nie. Oorlog is die onvermoë om konflik te hê.

Vrede beteken ook nie die afwesigheid van konflik nie, maar dalk juis dat ons bereid is om in konflik in te tree. Desmond Tutu het gesê: “If you want peace, you don’t talk to your friends. You talk to your enemies.” Dalk beteken Jesus se vrede nie dat ons al die moeilike dinge in ons lewens vermy nie, maar juis dat ons sy vrede bring na al die moeilike plekke in ons lewens en in die wêreld rondom ons.

Wat beteken dit vir jou om vrede te vind, te midde van die moeilikhede van die wêreld?

Jesus gee ook troos en bemoediging en herinner ons dat die wêreld klaar oorwin is.

Daar is ’n besonderse skildery deur Rembrandt van Jesus in die storm op die see van Galilea, wat in 1633 geskilder is. Dit beeld die toneel uit van die dissipels wat vreesbevange in ’n storm vasgevang is, terwyl Jesus in die middel van die storm slaap. Toe ek vir die eerste keer na die skildery kyk, besef ek dat Jesus ’n vrede het te midde van die storm, wat die dissipels nie gehad het nie. En ek besef dat die storm buite en rondom my, nie ’n storm binne my hoef te veroorsaak nie.

Die vrede van Jesus, maak dit vir ons moontlik om in die storms van die wêreld in te gaan, sonder dat dit die storms binne ons word.

Gebed

Here, dankie vir hierdie belofte van vrede. Wanneer die lewe vir my moeilik word en dit voel of die storms my oorweldig, kom herinner my dat U klaar die wêreld oorwin het en dat die storms buite my nie ’n storm binne my hoef te wees nie. Mag U vrede my in staat stel om met vrede in die storms van die wêreld in te gaan.

Amen