Goeiedag, vandag is Vrydag 16 Augustus en gedurende die week reis ons saam deur na te dink oor hoe ons geld ’n manier van kan gebruik.
Ons lewe in ’n wêreld waar ons van punt A na B toe jaag. Ons jaag rond om sukses te behaal. Op skool jaag jy van een klas tot die ander om goeie punte te behaal en wanneer jy begin werk bly jy opsoek na die werk wat jou die grootste salaris gaan bied. Dit is ook goed so, want ons kort ’n goeie salaris om te leef, maar Jesus kyk anders daarna.
Jesus het met die dissipels op ’n dag gesels en vir hulle vertel wat vir hom belangrik is en Hy het die volgende in Matteus 6:19 tot 20 gesê: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. 20Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. 21Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Die teks nooi vir my en vir jou uit om te besef dat die sukses waarna ons strewe nie vir God so belangrik is nie, vir Hom is dit belangrik dat jy jou talente en gawes gebruik tot eer van Hom en tot die opbou van sy koninkryk. Hy wil hê ons moet ons talente en gawes en alles waarmee God ons seën gebruik om Hom te dien. Die implikasie is dus ons moet ander mense daarmee dien.
Die Ou Amerikaanse President George Bush het die volgende gesê: “There could be no definition of a successful life that does not include service to others”. Sukses vir hom het beteken om ander te help. Ek en jy moet vandag in ons stiltetyd die teks weer gaan lees en vra: “Wat hoor ek?” “Wat nooi God my om te doen of nie te doen nie?”
Gebed:
Here, dankie vir alles wat U vir ons doen. Here, help ons om te besef dat hierdie gejaag na sukses nie vir U belangrik is nie en dat die gejaag na sukses eintlik ‘n gejaag na wind is. Here, help ons om te besef dat ons u koninkryk moet najaag en dat ons mense moet dien met die gawes en talente waarmee U ons geseën het, maar dat ons ook ons salaris waarmee U ons geseën het kan gebruik om ander mense mee te dien en te seën.
Amen