In hierdie week dink ons na oor die grense van die nuwe jaar – grense wat ons moet oorsteek, uitbrei of trek. Ons nooi jou uit om in hierdie week bewus te word van die grense in jou lewe, soos wat ons hierdie nuwe jaar begin.
41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.
Daar is ’n storie wat vertel word van ’n groep volgelinge wat hierdie woorde van Jesus ernstig opgeneem het. In daardie tyd was dit wet dat enige Romeinse offisier enige iemand kon vra om sy sak ’n kilometer vêr te dra. Hierdie groepie het so getrou twee kilometer geloop wanneer ook al hulle gevra is, dat hulle bekend geword het daarvoor. Romeinse soldate sou hoop dat, wanneer ook al hulle iemand vra om ’n sak te dra, die persoon deel sou wees van hierdie groep wat dan die ekstra kilometer loop. Na ’n ruk kom Jesus terug na die dorp waar hierdie groep getrou sy woorde uitgevoer het. Die groep het opgewonde gewag om Jesus te ontvang, dat Hy kon sien hoe getrou hulle sy woorde nagekom het. Toe Jesus hulle ontmoet, sê hy vir hulle: “Liewe broers, ek gee vir julle ’n nuwe opdrag, want julle het nie die eerste een verstaan nie. Julle wet sê julle moet ’n sak vir twee kilometer dra. My wet sê: dra dit drie kilometer.”
Hierdie storie en vandag se teksgedeelte, nooi ons uit om na te dink oor die grense van Jesus se opdragte aan ons. Wanneer ons die Bybel as ’n etiese kode gebruik wat vir ons wette gee om na te volg, word die vraag: wat moet ek doen om genoeg te doen? Wat is die grens wat van my verwag word? Vir die groep volgelinge in die storie was dit 2 km.
Hierdie verhaal kom uit die pen van ’n teoloog met die naam Peter Rollins, wat vêrder oor die verhaal reflekteer en skryf:
“What if Jesus was not offering his followers an ethical system to follow, but rather was inviting them to enter into a life of love that transcends ethics, a life of liberty that dwells beyond religious laws?… Instead of waiting to find out what ought to be done, or how much should be given, the lover gives in excess of the law and will act in the absence of the law, thus fulfilling the law by dwelling beyond it.”
Liefde nooi ons oor die grens van wat die wet van ons verwag.
Wat beteken dit vir jou om die ekstra kilometer te loop? Hoe nooi die liefde van Christus jou uit, om oor grense te gaan?
Here, mag ek in hierdie jaar wat voorlê uit liefde leef. Mag ek nie dinge doen omdat ek voel ek moet of omdat dit van my verwag word nie, maar uit liefde vir U en my naaste. Help my om met U liefde oor grense heen te gaan.
Amen