Dagstuk | Vrydag 19 Januarie 2024

Dagstuk | Saterdag 20 Januarie 2024
Dagstuk | Donderdag 18 Januarie 2024

Teks:Jesaja 41:10

Moenie bang wees nie, Ek is by jou,moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,met my eie hand red Ek jou.

GEDAGTE

In Jesaja 41 lees ons hoe die Woord van die Here na sy kinders gekom het toe hulle moedeloos, bang en angstig was. Die volk van Israel was in ballingskap toe hulle hierdie woorde gehoor het. Hulle het alles verloor: hulle huise, besittings en beroepe, en moes ook geliefdes aan die dood afstaan. Die toekoms was vir hulle donker. Hulle het geen hoop gehad nie. Vir baie van hulle was die ballingskap boonop ’n geloofskrisis. Hoe kon dit tog gebeur? Was hulle dan nie die uitverkore volk van God nie? Het die Here dan vergeet van sy beloftes? Was die Babiloniese gode dan magtiger as die Here? Is God saam met die tempel verwoes? Waar is Hy?

In Jes. 41:10 hoor hulle, “moenie bang wees nie, Ek is by jou”, woorde wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Deur dik en dun was en is en sal die Here altyd by sy kinders wees. Van die begin af was dit so. So was die Here by Abraham oral waar hy rondgetrek het. So was die Here by Moses van sy geboorte tot sy dood. Die Here het herhaaldelik aan Josua gesê dat Hy sterk en vol moed moet wees, en beloof dat Hy altyd by hom sou wees en hom nooit in die steek sou laat nie (vgl. Jos. 1:5-9). En so kan ons aangaan.

Het die Here nie ook beloof dat, as sy kinders deur diep waters en vuur moes gaan, Hy by hulle sou wees nie (vgl. Jes. 43:1-3)? Soos ’n goue draad loop die belofte van die teenwoordigheid van die Here deur die hele Ou Testament. En in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus, Immanuel, God by en met ons, is. Hy het self beloof dat Hy tot die voleinding van die wêreld altyd by sy kinders sal wees (Matt. 28:20). Hieraan mag ons nie twyfel nie. God is by ons, ook vir die nuwe jaar wat voorlê

GEBED

Dankie Here dat U beloftes altyd vas staan. U is saam met my in die nuwe jaar en ek hou daaraan vas. Amen.