Dagstuk | Vrydag 21 Junie 2024

Dagstuk | Donderdag 20 Junie 2024
Dagstuk | Saterdag 22 Junie 2024

https://youtu.be/YqukzbM8YME

Ons is die week besig met die tema: Om deel van ‘n gemeente te wees beteken om . . . Vandag voeg ons by: om deel te wees van ‘n geheel.

 Teks: 1 Korintiers 12:1-12

 GEDAGTE

In 1 Korintiers 12 verduidelik Paulus die kerk n.a.v. die metafoor van ‘n liggaam met baie dele. Ons lees in 1 Kor. 12:12: “Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam.”  ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate, nie net uit een nie. Daar is ‘n oog, hande, vingers, kop, ore, ens. Om as liggaam te funksioneer, het die liggaam juis ’n verskeidenheid ledemate nodig. Elkeen doen sy deel.

Saam vorm die kerk die liggaam van Christus. Elke lid van die kerk is geroep om sy verantwoordelikheid na te kom en mekaar te help om volledig kerk van Christus te wees. So skenk God aan elkeen in die kerk ‘n bepaalde gawe wat hy in die kerk moet gebruik. As liggaam van Christus het God verskillende take aan mense in die gemeente toevertrou. Daarom kan elke lid in die liggaam nie ’n oog wees nie en almal kan nie bene wees nie. Dit gaan nie oor die eendersheid nie, maar juis oor die eenheid tussen verkillende lede. Wat ook beteken dat elke deel noodsaaklik en belangrik is.

God het in die gemeente aan elke lidmaat ʼn bepaalde funksie gegee het.  So het God vir elkeen van ons spesifieke gawes gegee. En God vertrou jou soveel dat daar nie nog een soos jy is nie. Net jy kan daardie rol in die gemeente speel. Elke lid van die gemeente is noodsaaklik en moet sy of haar funksie in die gemeente vervul. Anders funksioneer die liggaam nie korrek nie. Dan is die gemeente kruppel.

Elkeen van hierdie dele is veronderstel om te werk. Die voet moet loop. Die hand moet vashou. Die oor moet hoor. Die oog moet sien. Die neus moet ruik. Dit is waarom ons moet weet wat ons gawes is sodat ons dit in diens van die gemeente kan gebruik om God te verheerlik. Die feit dat daar soveel diversiteit in ons kerke is, is wat ons sterk maak. Elkeen het ‘n doel. Elkeen is veronderstel om te werk. Elkeen moet ‘n rol he. Elkeen moet ander met sy gawe dien.

 

GEBED

Dankie Here dat met my gawes deel van die Gemeente kan wees. Gebruik my aseblief tot U eer.  Amen