Dagstuk | Vrydag 22 Maart 2024

Dagstuk | Saterdag 23 Maart 2024
Dagstuk | Donderdag 21 Maart 2024

Vandag is Vrydag 22 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons fokus die week op een van ons gemeentewaardes – nader aan God. Soos ons oor die bogenoemde nadink reflekteer ons vandag oor:

Die Vreugde van Gemeenskap met God. Wanneer ons nader aan God kom, ervaar ons die vreugde van gemeenskap met Hom. Ons vind troos, vrede en vreugde in Sy teenwoordigheid.

1 Johannes 1:3 NAV “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus“.

Dat ons in gemeenskap met God kan lewe is ’n groot seën wat ons deur Jesus Christus ontvang. Ons daaglikse gemeenskap met God is ons enigste bron van krag. As gemeenskap met God dan die seën van die evangelie is, moet dit ook in ons daaglikse lewe met God na vore kom. Wanneer ons dit werklik uitlewe, sal ons die wonder en vreugde van hierdie ondervinding ook aan ander wil vertel.

Mag gemeenskap met die Vader en die Seun ons daaglikse ondervinding wees – in ons stiltetye, in ons daaglikse werk, in ons getuienis teenoor ander wanneer ons hulle uitnooi om deel te hê aan dieselfde roemryke verlossing.

Gebed: Here, ons dank U vir elke oomblik van gemeenskap met U. Mag ons vreugde in U nooit verflou nie, maar mag dit groei en bloei soos ons nader aan U kom. Ons vertrou ons harte en ons lewens aan U toe, in die naam van Jesus Christus, ons Here en Redder.