Na die kragtige uitstorting van die Heilige Gees lees ons verder in Handelinge hoe die kerk van Christus onder die invloed en leiding van die Gees gebore word. Die Heilige Gees was betrokke by die geboorte van Jesus, maar ook — soos ons hier sien — by die geboorte van die liggaam van Christus, sy kerk!
Ons lees vanoggend ’n paar verse uit Handelinge 2 om te sien wat die geboortetekens van die Heilige Gees-geïnspireerde kerk van Jesus was.
Handelinge 2:41-47:
“Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”
Soos reeds gesê, sien ons hier die prototipe van die kerk van Christus — die grondbeginsels waarop die kerk van alle eeue gebou moet word; die uitkomste van die werking van die Gees in die eerste gemeente.
Kom ons lys kortliks ’n paar hiervan:
• Die leiers het onder die leiding en invloed van die Gees kragtig begin bedien — wonders en tekens gedoen, verkondig en leiding gegee. Almal was met diep ontsag en respek vir hulle vervul. Verdien leiers in die kerk vandag nog die ontsag en respek van gelowiges en ander mense?
• Daar was eenheid. Eensgesindheid, eendragtigheid en onderlinge verbondenheid (vers 42) was duidelik sigbaar. Kan ons hier ’n regmerkie maak, of eerder ’n kruisie?
• Die gelowiges het gedeel en gegee. Besittings, rykdom en eiebelang was nie vir hulle die hoogste prioriteit nie. Hulle het oop harte en oop hande gehad en na mekaar se behoeftes omgesien — ook na dié van die armes. Hulle het in eenvoud geleef en geëet sodat hulle ook vir ander kon gee.
• Hulle het getrou by die tempel — hulle plek van aanbidding — byeengekom. Daar kon hulle hul gemeenskaplike geloof en verbondenheid vier, saam eet, saam bid en veral God prys. Hierop, sê vers 42, “het hulle hulle heelhartig toegelê”. Weereens: Kan ons, soos ons vandag sou sê, hierdie “boksie tick”?
• Die gemeenskap en die hele volk was hulle goedgesind. Hulle was ’n gemeente wat hulle omgewing en leefwêreld beïnvloed het. Hoe kyk die wêreld vandag na ons as kerk en gemeente? Met goedgesindheid en respek? Sal ons omgewing ons mis as ons as kerk en gemeente sou sluit?
• En laastens: Hierdie Pinkstergefundeerde prototipe-gemeente het gegroei — in getalle, maar ook in invloed. Deur hulle invloed en getuienis het baie mense tot geloof in Christus gekom en is hulle by die gemeente gevoeg. Groei ons, of bloei ons uit?
Daar is nie ’n beter tyd vir selfondersoek nie — persoonlik, maar ook as gelowige gemeenskap — as juis Pinkstertyd. Die Heilige Gees het die kerk vanaf Pinksterdag op koers geplaas in die wêreld. Is ons nog só op koers?
Gebed
Kom, Skepper-Gees, besoek u kerk.
U wat vernuwe, ons versterk.
Vul self u skepping, Heilige Gees,
met krag op hierdie Pinksterfees.
Amen.