Dagstuk | Saterdag 23 Mei 2026

Dagstuk | Vrydag 22 Mei 2026
Dagstuk | Maandag 25 Mei 2026

Goeiedag.
Dit is die dag voor ons Pinksterfees vier!

Die afgelope week het ons so bietjie deur die eerste boeke van Handelinge gereis om weer te sien watter groot rol die Pinkstergebeure gespeel het in die geboorte van die kerk. Daarom sal dit nie verkeerd wees om te sê dat ons môre, met ons Pinksterfees, eintlik die verjaardag van die kerk vier nie.

En soos ’n verjaardagviering altyd met vreugde en dankbaarheid gepaard gaan, so ook by die verjaardagviering van die kerk. Ons, die kerk, is dankbaar vir hierdie groot Geskenk — die Heilige Gees — wat die Vader vir ons gegee het.

Hoekom vier ons dit? Kom ons kyk vandag hoe Paulus, opgewonde en dankbaar, beskryf wat die rede vir ons vreugde met Pinksterfees is.

Efesiërs 1:13-14:
“Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan God behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.”

Daarom kan ons inderdaad sê: ons behoort ’n verjaardagpartytjie te hou — ons moet feesvier!

Drie geskenke. Ons kan ook van drie verjaardaggeskenke praat wat die kerk met die koms van die Heilige Gees ontvang het:

Eerstens: God se belofte het in vervulling gekom.
Die belofte dat Hy die Heilige Gees sou stuur, is vervul op Pinksterdag (Handelinge 2). God se belofte van ’n Trooster, ’n Helper en Iemand wat Christus se kerk op koers hou, het werklikheid geword. Dit is reeds ’n rede om te feesvier.

Tweedens: Die Heilige Gees beseël ons as God se eiendom.
’n Seël is ’n merk van eienaarskap. Die Gees merk ons en bevestig dat ons aan God behoort. In Bybelse tye is mense en eiendom ook gemerk om eienaarskap aan te dui. So bevestig die Heilige Gees daagliks dat ons God s’n is — sy eiendom wat duur gekoop is met die bloed van sy Seun.

Derdens: Die Heilige Gees is die waarborg van ons toekoms.
Hy is die eerste paaiement, die voorsmaak en sekerheid van ons volledige verlossing en ewige toekoms by God.

Drie geskenke wat ons ontvang deur die werking van die Gees: ’n vervulde belofte, ’n seël wat bevestig aan wie ons behoort, en ’n waarborg van ons toekomstige erfenis.

Kom ons vier dit môre met ons Pinksterfees.

Gebed
Ons Vader, dankie dat ons die koms van u Gees kan vier —
dat u belofte in vervulling gekom het,
en dat u Gees ons as u eiendom beseël.
Amen.