Dagstuk | Vrydag 23 Augustus 2024

Dagstuk | Donderdag 22 Augustus 2024
Dagstuk | Saterdag 24 Augustus 2024

https://youtu.be/VhpD2V7giqE

In hierdie week, as deel van die maand van barmhartigheid, reflekteer ons oor om van ons besittings te gee.

Lukas 12:15-18

15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

16Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar.

Refleksie

Hierdie verhaal gaan voort waar die man vir homself sê: “Hou op werk – eet drink en leef lekker.” Daardie selfde aand word die man se lewe van hom geëis en hy kan niks geniet wat hy met soveel moeite bymekaargemaak het nie.

Hierdie verhaal laat my dink aan Smaug, die draak in Tolkien se verhaal, the Hobbit. Smaug het vir hom groot rykdom van juwele en goud bymekaargemaak in ’n grot, waar hy heeldag lê en slaap. Smaug se hele bestaan word bepaal deur hoeveel rykdom hy bymekaar kan maak. In ’n manier is Smaug die rykste van almal. Maar in ’n ander manier is hy die armste van almal, omdat hy homself nie kan kry om eers een stukkie van sy rykdom te gebruik nie, want dan is hy minder ryk. Daarom hou hy net aan om bymekaar te maak.

Mense tree dikwels soos Smaug, of soos die ryk man in Jesus se gelykenis op en probeer soveel as moontlik vir onsself bymekaarmaak. Of, ons koppel ons eie en ander mense se waarde aan hoeveel hulle bymekaar kon maak. Maar Jesus nooi ons om anders te leef. Jesus sê: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.” Ons word genooi om ryk te wees by God.

Daar is ’n bekende gesegde wat sê: As jy meer het as wat jy nodig het, bou ’n langer tafel, nie ’n hoër heining nie.

Mag ons ook, in die manier wat ons ons besittings gebruik, langer tafels bou eerder as hoër heinings.

Daar is ’n bekende gebed van Ignasius waarmee ons vandag afsluit.

Gebed

Neem Heer en ontvang al my vryheid, my geheue, my verstand en my volle wil, alles wat ek het en besit. U het alles vir my gegee. Aan U, O Heer, gee ek dit terug. Alles behoort aan U, handel ten volle daarmee volgens U wil. Gee my U liefde en U genade, want dit is genoeg vir my.

Amen