Dagstuk | Vrydag 24 Mei 2024

Dagstuk | Saterdag 25 Mei 2024
Dagstuk | Donderdag 23 Mei 2024

Die week se oordenking het gepraat oor die manier waarop God ons oor tyd heen lei. Vandag se teksgedeelte praat met ons oor die keuses waarby dit ons uitbring.

Teks: Filippense 4:8. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. God wat vrede gee sal by julle wees.

Paulus het die brief aan die Filippense geskryf terwyl hy in gevangenisskap sit. Hy wil gelowiges laat verstaan dat alhoewel dinge in hulle hede en toekoms nie noodwendig gaan uitwerk soos wat hulle gehoop en geglo het nie, dit hulle nie van die geleentheid ontneem om betekenisvolle lewens te lei nie. Alhoewel gevangenisskap sy beweging beperk, dit hom nie beperk om te kies om sy lewe op ‘n bepaalde manier te leef nie. Dit is hier waar die Heilige Gees Paulus dring om sy gedagtes te fokus op dit wat mooi, edel en opreg is en wat hom by ‘n plek uitbring om God se vrede vir sy hede te ervaar (ook te aanvaar). Ons gaan binnekort ‘n stem uitbring waarin ons ‘n keuse maak en hoop dat die kruisie op die papier ‘n verskil sal maak. Maar te midde dat Christene in die komende verkiesing anders gaan stem, het ons ‘n gemeenskaplike stem. Die keuse om te midde van wat die uitkoms mag wees en hoe dié realiteit mag uitspeel saam die keuse te maak om ons gedagtes te rig op dit wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is. God het ons die vryheid gegee om self te kan kies en daardeur Sy vrede in ons verlede, hede en toekoms te laat deurbreek.

 Gebed

Here, ek het vandag my kanse verbeur, my tyd verspeel, my humeur verloor, my klagtes voor U opgestapel. Ek het baie gepraat sonder om te dink aan die effek van my woorde. Ek het my ydel begeertes verwar met my diepste behoeftes. Here, ek het gesondig. Wees my genadig. Vergewe my. Help my om uiteindelik my prioriteite reg te rangskik – in die orde wat bepaal word deur die dinge wat vir U saakmaak. Dankie dat U my ‘n stem gegee het om te kies om U vrede in my hede te laat deurbreek. Amen.