Dagstuk | Vrydag 26 Julie 2024

Dagstuk | Donderdag 25 Julie 2024
Dagstuk | Saterdag 27 Julie 2024

 

Vandag is Vrydag 26 Julie en welkom by hierdie week se oordenkings. Komende Vrydag begin die Olimpiese Spele waar ons uitsien om die beste van bestes op die wêreldverhoog te sien. Dit wat ons in die volgende maand op ons skerms gaan beleef, kom nie sonder harde werk nie. Dit verg spanwerk, volharding en uithouvermoë. Daar is hoogte en laagtepunte, beserings en druk van toeskouers en opponente. Gelukkig vir ons het ons ’n afrigter, fisioterapeut en spanbestuurder in ons Hemelse Vader en Hy is altyd aan ons kant en vir ons. Hierdie week kyk ons deur die bril van die Olimpiese Spele na ons eie wedstryd van die lewe.

Vandag se Bybelvers: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk…”2 Korintiërs 12:9-10

Hierdie verse kom uit die konteks waar Paulus getuig van ‘n persoonlike ervaring waar hy swaarkry ervaar het en gebid het vir verligting. God se antwoord aan hom is dat Sy genade voldoende is vir hom, en dat Sy krag veral in Paulus se swakheid geopenbaar word. Paulus erken dat hy in sy eie swakheid en lyding kan roem, omdat dit God se krag is wat hom deur alles dra. Dit wys op ‘n diep vertroue en afhanklikheid op God, selfs in die moeilikste tye. Hierdie verse bied ‘n belangrike les vir ons as gelowiges oor hoe om te vertrou op God se genade en krag, selfs te midde van swakheid en moeilikheid, en hoe God se krag perfek deur ons swakheid voltooi word. Wat is tans jou doring in die vlees? Verwoord dit in jou gebed en weet dat daar waar jou woorde opdroog die Gees van God namens jou sal intree by die Vader en dit sal wat diep weggesteek is in jou hart verwoord.

Gebed: Hemelse Vader, ons bring die Olimpiese Spele tot U. Mag al die atlete wat deelneem, dit doen met die oog op die ewige prys van u goedkeuring en liefde. Help hulle om vasberade te wees, om te fokus op u wil, en om hulle talentvolle gawes tot u eer te gebruik. Mag hulle wedloop ‘n bron van inspirasie en eenheid wees vir die hele wêreld. Mag ons soos wat ons uitgeput word deur ons eie wedstryd van die lewe, rus vind in u teenwoordigheid. Amen.