In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Daniël, wat ons leer om in ’n veranderende wêreld getrou te bly aan God.
Daniël 10:19: Hy het gesê, ‘Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk, ja, wees sterk!’
“Terwyl hy met my praat, het ek my krag herwin en gesê, ‘My heer kan maar praat, want u het my versterk.’
Refleksie
Deel van die verhaal van Daniël is dat Daniël ’n klomp drome en visioene kry van alles wat nog moet gebeur, wat dit duidelik maak dat dinge eers erger gaan raak, voordat dit beter raak. Wanneer Daniël dit sien, voel dit asof hy nie meer krag het vir enige iets nie, asof hy nie wil opstaan nie. Dalk het jy ook onlangs gevoel dat jy eerder net in die bed wil bly, asof jy nie genoeg krag het om die dag aan te pak nie, asof al die probleme van die wêreld daar buite te swaar op jou skouers lê.
Angs is in ’n klomp maniere die siekte van ons tyd, wat dit laat voel of die onsekerheid van die toekoms en al die probleme in die wêreld oorweldigend raak, amper soos wat Daniël gevoel het toe al hierdie visioene aan hom openbaar is.
Te midde hiervan, raak die mens in sy visioen hom aan en sê vir hom: ‘Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk, ja, wees sterk!’
Jesus sê amper dieselfde woorde vir sy dissipels wanneer hy hulle voorberei vir sy kruisiging en alles wat daarna sou kom, in Johannes 14: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.
Dalk het jy vandag ook nodig om net hierdie woorde van Jesus te hoor.
Die bekende teoloog Dallas Willard, het vir ’n vriend gevra: As jy een woord kon gebruik om Jesus mee te beskryf, wat sou dit wees? As ons daarin dink, is daar ’n klomp woorde waaruit ons kan kies. Watter woord kom in jou gedagtes op?
Dallas Willard antwoord dan sy eie vraag en sê: “Relaxed”. Ontspanne. Jesus het ’n diep vrede. Hy is die een wat kan slaap in die middel van ’n storm, ons uitnooi om nie besorg en bekommerd te wees nie en rus te vind in Hom. Hy is die een wat sy vrede vir ons gee.
Wanneer dit voel asof die wêreld rondom jou te veel raak, mag die Here jou herinner aan die vrede wat Hy vir ons gee. Mag die Here jou vandag herinner dat die storm in die wêreld daar buite, nie ’n storm binne jou hoef te veroorsaak nie.
Gebed
Here, in ’n wêreld waar alles vir ons soms te veel voel, mag U vir ons vrede gee en ons tot rus bring in U. Mag U vrede ook deur ons vloei, dat ander u al meer in ons kan sien.
Amen