Dagstuk | Vrydag 5 September 2025

Dagstuk | Donderdag 4 September 2025
Dagstuk | Saterdag 6 September 2025

Job 39:20-22 en 27. Kan jy ‘n krokodil met ‘n hoek vang of hom in tou in die bek sit? Kan jy ‘n lyn deur sy neus steek of sy kakebeen met ‘n hoek vastrek? Sal hy jou soebat om genade of by jou mooipraat? Pak hom met jou kaal hande: jy sal die geveg onthou, jy sal nie weer probeer nie.

In die verhaal van Job bevind hy homself op ‘n plek waar hy sukkel om van die teëspoed, wat in die lewe oor sy pad gekom het, sin te maak. Hy en sy vriende het in ‘n intense debat betrokke geraak oor God se wil en dit probeer verklaar. Helaas verloor Elihu in hoofstuk 32 sy geduld met Job en sy vriende se uitlatings en wys hulle op God se soewereiniteit. God is groter as wat ons oor hom dink, maar dan ook genadig en regverdig. God vereis nie van ons om Hom te verklaar of te voorspel nie, maar te vertrou. Die dat God dan na vele hoofstukke van stilbly en luister Job met dié vraag konfronteer: Job kan jy ‘n krokodil met ‘n hoek vang of ‘n tou in sy bek sit? In kort daag God Job uit om sy antwoorde te soek in die grootheid en wonder van die skepping waarin hy elke dag leef. Hoe praat die Here vandag deur hierdie bewussyn met jou? Job het nie ‘n antwoord op sy vrae gekry nie, maar is deur die Here se grootheid gelei tot ‘n insig en vertroue om weer met sin in sy omstandighede te leef.

Gebed

Hemelse Vader,
U wat die hemelruim met sterre versier het
en die aarde met berge, riviere en bome bekroon het—
ons buig vandag voor U in verwondering.

Dankie dat U skepping nie net skoonheid openbaar nie,
maar ook betekenis aan ons bestaan gee.
Wanneer ons die son sien opkom,
die voëls hoor sing,
of die see hoor bruis,
herinner U ons daaraan
dat ons nie toevallig hier is nie,
maar dat U ons met doel en liefde geskape het.

Here, laat die wonders van U skepping
ons harte leer om U dieper lief te hê
en ons lewens lei om sinvol te leef.
Mag ons altyd weet:
soos elke blom en ster sy plek het,
het ons ook ons plek in U groot plan.

Amen.