Hebreërs 2:9
Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie, maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.
Wie weet wat die nuwe jaar vir ons gaan inhou? Ons gebruik dikwels die woorde hoop en glo as dat ons by ons verwagtinge sal uitkom, maar te midde daarvan leef ons eke jaar in die realiteit van die onbekende. Wanneer Hebreërs met ‘n tweede generasie gelowiges praat sukkel hulle om sin te maak van die godsdienstige verwagtinge van ‘n vorige generasie wat nie uitgespeel het soos wat hulle verwag nie en praat Hebreërs oor glo sonder om te sien. Maar dan praat hierdie teks wel met ons oor iets wat wel baie naby aan elkeen van ons gekom het en wat ons kan sien: Ons sien Jesus se lyding en sy dood. Dit resoneer met ons eie ervaringe van lyding en dood en bring ons in die midde van ons omstandighede om God se genade te ervaar. In hierdie tyd van Advent sien ons nie net uit na die aanbreek van Kersdag nie. Ons sien vandag in ons ervaringe van dood en lyding vir Jesus en die wyse waarop God se genade vir ons oopbreek. Kersfees is altyd ‘n tyd van vreugde en blydskap, maar soos julle weet is dit ook ‘n tyd waar ons gebrokenheid en verlies intens ervaar. Wanneer hierdie ervaring in hierdie tyd oor jou kom kan jy ook weet dat die geboorte van die Verlosser baie naby aan jou gekom het.
Gebed
Here, dankie dat die gebrokenheid wat ons jaar in en jaar uit saam met ons dra nie die laaste woord is oor ons lewens nie, omdat U nabyheid tot ons deurbreek. In hierdie tyd van ontspan, kleur, liggies en vreugde dra ons elkeen swaar aan dit wat in ons lewens, land en wêreld gebreek is. Ons probeer dit dikwels net eers vir die volgende maand wegpak om dit in die nuwe jaar te hanteer. Maak ons sensitief om juis in hierdie advent tyd te neem om die gebrokenheid in en om ons in die oë te kyk om te kan ervaar dat U in hierdie tyd en omstandighede ook aan ons verskyn. Dankie vir U genade wat altyd sterker is en in ons seëvier. Amen.