Dagstuk | Vrydag 8 Maart 2024

Dagstuk | Saterdag 9 Maart 2024
Dagstuk | Donderdag 7 Maart 2024

Hierdie week reis ons binne teksgedeeltes en gedagtes oor die eerste gedeelte van ons gemeente se belydenis: Ons Glo Jesus ons Verlosser leef. Vandag staan ons stil by ons glo in die algemene kerk van Christus waarvan ons deel is.

Efesiërs 4:12-13

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Refleksie

Met al die duisende kerke in die wêreld kan ons maklik visie verloor dat ons almal, elke kerk, deel is van die liggaam van Christus. Dat ons een liggaam is, wat opgebou word, soos Paulus ons herinner tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Al is daar ’n magdom verskillende uitdrukkings van kerkwees, moet ons nooit vergeet dat ons almal deel is van iets groter nie. Die beeld van die liggaam en ’n beeld soos die wingerdstok, herinner ons dat ons nooit onsself kan los sny van mekaar, sonder om onsself los te maak van die hoof van die liggaam, van die ware wingerdstok nie. As ons deel is van die liggaam van Christus, is ons ook verbind aan mekaar. Die kerk is een.

Iemand het dit een keer aan my verduidelik deur die beeld van ’n bootjie op die see te gebruik. As die bootjie sou sink tot op die bodem, sou ons kon sê dat die bootjie vol van die see is. Dit sou wel belaglik wees as ons sou wou sê dat die see vol van die bootjie is. Dieselfde is waar vir die kerk. Ons is almal deel van die groot see van God, wat ons saambind tot ’n eenheid. Om deel te wees van die algemene kerk van Christus beteken dat ons besef dat ons nie die volle waarheid het nie, maar dat God groter is as wat ons besef en ons maar net ’n stukkie van die grootheid van God beleef. Dit beteken dat daar genoeg ruimte is binne die grootheid van God vir verskillende uitdrukkings van kerkwees. Ons besef ook dat elke spesifieke bootjie vol is van dieselfde see en dat die see al die bootjies aan mekaar verbind. Ons is almal deel van een kerk, wat deur Christus saamgebind word tot een liggaam, een kerk.

Dink vir ’n oomblik hoe dit sal voel om op ’n klein bootjie in die middel van die oseaan te dryf. Wat maak dit in jou los om te besef dat jy deel is van iets groter?

Dink vir ’n oomblik hoe die see al die kontinente en eilande aan mekaar verbind. Hoe ’n bottel wat in Suid-Afrika in die see beland, aand die ander kant van die wêreld kan uitspoel. Hoe voel dit vir jou om te dink dat jy deel is van een algemene kerk, die liggaam van Christus?

Luister weer na vandag se teks, mag dit ons inspireer om die kerk op te bou in eenheid:

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Gebed

Here, ons dink so maklik dat ons die enigste, volle waarheid het. Kom herinner ons vandag dat U groter is as ons idee of uitdrukking van kerk. Herinner ons ook dat ons deel is van een Kerk, die liggaam van Christus. Mag ons in die manier wat ons bid, dink en doen, die kerk opbou tot ’n eenheid in Christus.

Amen.