Dagstuk | Vrydag 8 November 2024

Dagstuk | Donderdag 7 November 2024
Dagstuk | Saterdag 9 November 2024

In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Jona, wat ons nooi om te vernuwe deur bewus te word van die belaglikheid van ons eie harte.

Jona 4:1

1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

Refleksie

Die laaste hoofstuk is die klimaks in die verhaal van Jona. In vandag se teks word dit duidelik hoekom Jona aan die begin weggehardloop het: nie omdat hy bang was nie, maar omdat Hy geweet het die Here is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde; en hy weet in sy hart dat hy nie wil hê God moet genadig wees teenoor sy vyande nie. Jona wou sien hoe God oordeel bring oor Nineve in die vorm van ’n ramp en dit is vir Jona beter om te sterf, as om te lewe saam met die God wat aan sy vyande genade bewys.

So dikwels is ons prentjie van God se geregtigheid dat God oordeel moet bring oor die mense wat ons verontreg het, of selfs net mense wat verskil van ons, of anders as ons is. Om dit  so bietjie in perspektief te stel met ’n analogie: as jy eendag in die Hemel sou kom en jy kyk rondom jou na al die mense wat saam met jou daar is, oor wie sal jy verbaas wees, of selfs ontsteld wees om daar te sien?

Jona se reaksie op God se genade hou weereens ’n spieël voor ons op en vra hoe voel ons regtig oor die feit dat God ’n genadige God is, lankmoedig en vol liefde, wat maklik afsien van straf? Wil ons, as ons eerlik is, nie ’n bietjie meer straf sien kom oor die mense wat in ons oë verkeerd doen nie? En kan ons saamleef met ’n God, wat radikale liefde en genade bewys aan die mense van wie ons nie hou nie?

Raak vandag bewus van wie jy beskou as ’n vyand of selfs net anders as jouself. Of dink aan jou reaksie as jy sien dit gaan goed met iemand waarmee jy in kompetisie is, of van wie jy nie hou nie. Baie keer leef hierdie gedagtes onder die oppervlak en wil ons dit nie vir onsself erken nie. Vra vandag vir die Here om aan jou te openbaar watter gevoel jy in jou hart teenoor hierdie mense koester.

Gebed

Here, U genade is soms vir ons moeilik. Ons wil dit vir onsself hê, maar sukkel om U genade vir ander toe te wens. Maak ons vandag bewus van wie ons as vyande beskou en watter emosies ons teenoor hulle het. Mag ons begryp net hoe barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde U is.

Amen