Dagstuk | Vrydag 9 Augustus 2024

Dagstuk | Donderdag 8 Augustus 2024
Dagstuk | Saterdag 10 Augustus 2024

https://youtu.be/dwCwE_oyabI

Jakobus 4:13-14. Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak”. Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.

Ons lewe bestaan uit die maak van planne. Daarsonder kan ons nie ons doelwitte realiseer nie. Maar ons planne is berekende proefnemings. Daar is geen waarborg dat hulle gaan realiseer, of dat ons planne op die regte informasie gebaseer is nie, of dat dit ‘n positiewe uitwerking sal hê nie. Jakobus bring ‘n ander perspektief. In die teksgedeelte sê hy verder in vers 15: Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen, maar nou is julle seker van julle self en praat groot”. Onthou jy die woorde DV wat vroeër jare dikwels op ons kerkafkondigings verskyn het. Dit gee uitdrukking aan die Latynse woord Deo Volente, wat beteken “as die Here wil”. Watter gevoel, gesindheid, of oortuiging bring dit vandag in jou program of planne? Dit maak ons bewus dat God vandag groter is as ons planne en uitkomste en dat alhoewel ons onseker is, weet die Here van ons vrae om in ‘n rigting te beweeg. DV maak ‘n groot verskil – dit plaas ons verwagtinge nie in die uitkomste waarop ons hoop en waarvoor ons baklei nie, maar in die Here wat ons op hierdie pad kan lei en korrigeer. Dit laat jou vandag besef dat die Here in jou eie planne en beplanning by jou is en jou selfs kan lei om jou planne aan te pas, te verander of om heeltemal daarvan af te sien. Mag jy die troos en inspirasie beleef van God wat op hierdie manier met jou saamreis.

Gebed

Here, ek bid dat ek sal aanhou bid nadat ek amen gesê het. Ek bid dat ek U sal sien wanneer my oë oop is. Ek bid dat ek U sal beleef in elke heilige sekonde van hierdie gewone dag. Ek bid dat ek in u blyplek sal bly as ek uitloop in die straat waar ek woon. Here wys my vandag u wil op praktiese maniere dat ek dit deel kan maak van my planne en u genade, sorg en genesing kan realiseer waar ek vandag kom. Amen.