Dagstuk | Woensdag 10 Junie 2026

Dagstuk | Dinsdag 9 Junie 2026
Dagstuk | Donderdag 11 Junie 2026

2 Korinthiërs 12:9-10

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, dan is ek sterk.

Eberhard Busch, die Switserse teoloog, was vir baie jare die wêreldbekende teoloog Karl Barth se persoonlike assistent. Barth het ’n ongelooflike impak op Eberhard se lewe gehad, soveel so dat hy later self professor in Teologie geword het en talle boeke geskryf het oor Karl Barth se intellek en besondere insigte. Daar is twee verhale wat my altyd bybly.

Die eerste handel oor hoe Barth, soos almal wat ouer word, ook gesukkel het om hierdie fase van sy lewe te aanvaar en te verwerk. In sy laaste jare, vertel Busch, was hy baie verswak, maar tog het hy steeds aan die lewe vasgeklou. Sy woorde aan Busch was dikwels: “Eberhard, ek wil nie nou al sterf nie – ek wil nog lewe.”

Die tweede verhaal speel af enkele maande voor Barth se dood. Hy is genooi om as spreker by ’n byeenkoms van jong teoloë en predikante op te tree. Op pad daarheen het hierdie groot geleerde egter skielik onseker geword en teenoor Busch gekla dat hy nie weet wat om te sê nie. Busch het hom probeer gerusstel en voorgestel: “Kom ons gaan sit eers buite in die tuin en rook saam ons pype voordat jy ingaan. Dit sal help.”

Dit is presies wat hulle toe gedoen het. Kort daarna het Barth sy gehoor, soos soveel kere tevore, meegevoer met sy verstommende kennis en diep insigte.

Albei hierdie verhale herinner ons daaraan dat ons niemand moet oorskat nie, selfs nie die slimstes of beroemdstes nie. Ons is almal menslik. Ons lewe is deurweef met swakheid, broosheid en sterflikheid, en met die angs en frustrasie wat dikwels daarmee saamgaan.

Tog herinner Paulus ons daaraan dat God juis in ons swakheid aan die werk is. Waar ons eie krag tekortskiet, word sy genade genoeg. Waar ons broosheid ons beperk, kan sy krag sigbaar word.

Laat ons daarom hierdie waarheid as troos ontvang en daarin rus vind: God se genade is genoeg, en sy krag word dikwels die duidelikste sigbaar in ons swakheid.