2 Korintiërs 3:18. Om deur God verander te word
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat Gees is.
Al die tekste wat ons tot dusver gelees het, getuig van hoe die Here ’n nou pad met mense in hulle alledaagse omstandighede gestap het. Iets wat baie opmerklik is, is dat niks onmiddellik in mense soos Jakob en Moses se lewens verander het nie. Dit was nie ’n kwessie dat God vir lank afwesig was en skielik op grond van hulle gehoorsaamheid hulle met sy verskyning beloon het nie. Alles het tyd geneem en hulle moes deur lewenservaringe leer en gevorm word. Die belofte van God se teenwoordigheid was altyd ‘n teenwoordige realiteit ongeag hulle omstandighede, of die vlak van hulle geloof. Dit is die goeie nuus van ons geloof in God: Ons almal is na God se beeld geskape en word in lewenservaringe deur God verander. God is nie net in die vind- en insig-oomblikke nie, maar ook agter die sluier waar ons nie verstaan nie. Mag jy vandag die Here op hierdie manier in die lang reis van jou lewe raak sien en bewus raak hoe sy Gees jou in alle omstandighede en ervarings lei.
Gebed
O God wat die sonnestelsels en sterre om ons geskep het en in wie se oë duisend jaar soos een maand omvlieg – brei vandag ons horisonne uit, sodat ons meer van u grootheid en almal kan raaksien; sodat ons u majesteit kan sien skyn in al u werke, en u absolute koningskap in nederigheid kan aanvaar. Amen.