Dagstuk | Woensdag 14 Augustus 2024

Dagstuk | Dinsdag 13 Augustus 2024
Dagstuk | Donderdag 15 Augustus 2024

Goeiedag, vandag is Woensdag  14 Augustus en gedurende die week gaan ons saam nadink oor hoe ons geld as ’n manier van omgee kan gebruik.

Soos ek reeds genoem het, is dit nodig vir ons om ’n goeie verhouding met God te hê en ons lewe vir Hom te gee en om met ’n dankbare hart te lewe.

Vandag gaan ons stil staan by ’n verhaal van ’n man wat oor grense heen uit gereik het om ’n ander persoon in nood te help. Ons ken almal die storie baie goed. Dit is die verhaal van die Barmhartige Samaritaan.

 

Kom ons lees Lukas 10:25-37:

25Daar was ‘n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

 

Die storie help ons om te besef dat ons mense se menswaardigheid moet raak sien. Dat ons nie se ras, klas of geslag of hoe die persoon lyk of ruik nie, nie vir ons belangrik moet wees nie, maar dat ons oor grense moet  beweeg om mense te help. Hier het ’n Samaritaan die Jood gehelp wat in nood was. Beide die priester en die Leviet het die man raak gesien en net aan gegaan met hulle lewe, maar die Samaritaan, wat nie regtig van Jode gehou het nie, het die Jood raak gesien en hom geneem na ’n plek waar hy hulp kon ontvang. Die storie nooi vir my en vir jou uit om uit ons gemaksones te klim en regtig mense in nood te help. Ons kan ons geld gebruik om mense in nood ’n beter toekoms te gee, of ons talente om ander te help waar hul hulp benodig. Die Samaritaan het geweet hy kan nie self die man help nie, maar hy het hom geneem na mense toe wat hom kan help en soms roep God ons ook om dit te doen. Om byvoorbeeld iemand na die dokter toe te neem, om by iemand te gaan sit en gesels, om vir iemand te bid of om vir iemand of ’n organisasie geld te skenk.

Gebed:

Here, dankie vir die storie van die barmhartige Samaritaan. Dankie dat ons weet dat U ons so oneindig lief het. Here maak ons harte en ons ore oop, sodat ons vir mense kan dien. Here, of dit nou is om ‘n brood te koop, ‘n organisasie te ondersteun, iemand na ’n dokter toe te neem, of dit net is om ‘n oor te wees wat luister. Here, help ons regtig om u koninkryk op aarde te versprei en om mense van u lig en u liefde te leer.

Amen