Dagstuk | Woensdag 15 Mei 2024

Dagstuk | Donderdag 16 Mei 2024
Dagstuk | Dinsdag 14 Mei 2024

Vandag is Woensdag 15 Mei en ons reis die week saam oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.

Ons het Maandag gehoor dat mense na die tabernakel of na die tempel toe moes gaan om God se teenwoordigheid te ervaar, maar dat met die uitstoring van die Heilige Gees ons nou self met God kan praat en dat ons na mekaar toe kan draai en by mekaar van God kan leer en saam nader aan God groei en saam met God Sy Koninkryk op aarde uitbou. Gister het ons gesels oor die feit dat met die Heilige Gees het God ook aan ons verskillende gawes en talente gegee wat ons kan gebruik om Christus se liggaam te bou en sy Koninkryk op aarde te vestig. Ons het gehoor dat elkeen se gawe en talent belangrik is tot die opbouing van Christus se liggaam en dat geen talent of gawe belangriker as ’n ander een is nie.

Kom ons lees Galasiërs 5:22-26 saam:

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Deur die teks probeer Paulus vir ons oordra dat as ons glo ons het die Heilige Gees in ons harte, moet ons strewe om in Jesus se voetspore te volg. Ons moet weg beweeg van die aardse dinge. Ons moet ons hart en siel gefokus hou op hoe God wil hê ons moet lewe. Ons moet mense met liefde en genade hanteer. Ons moet vriendelik en geduldig wees teenoor ander, al is dit hoe moeilik. Al maak mense ons by die werk kwaad, al is dit soms moeilik om geduld te betoon teenoor ander mense, is dit nodig, want die Here betoon geduld en liefde teenoor ons op ’n daaglikse basis. Hy het vir ons liefde betoon aan die kruis, liefde wat ons nie eintlik verdien nie en so moet ons ook ander mense hanteer.  Om in die voetspore van die Here te loop, gaan nie altyd maklik wees nie, maar ons kan konstant probeer, want ons het die Heilige Gees binne en rondom ons wat ons op ’n daaglikse basis help om in Jesus se voetspore te loop.

Ek wil ons uitdaag om na te dink oor waar ons die week meer met een van die vrugte van die gees moet leef.

Gebed:

Dankie Here vir die Heilige Gees binne in ons. Dankie dat U ons elke dag help om in U voetspore te loop. Dankie vir die liefde wat U vir ons kom wys het. Dankie vir die kruisiging. Dankie dat U ons onophoudelik lief het en vergewe al verdien ons dit nie altyd nie. Dankie Here vir al ons gawes en al ons seëninge en help ons om dit dié week uit te leef, sodat ons oor grense kan uitreik en mense met liefde en genade kan hanteer soos U ons daagliks hanteer.

Amen