Dagstuk | Woensdag 16 April 2025

Dagstuk | Dinsdag 15 April 2025
Dagstuk | Donderdag 17 April 2025

OOMBLIK VAN STILTE

TEKS: Deuteronomium 11:22“ Ja, as julle hierdie hele gebod wat ek vir julle voorskryf, sorgvuldig nakom deur dit uit te voer, die Here julle God lief te hê, al sy paaie te volg en aan Hom vas te hou,

BOODSKAP

In Deuteronomium word God se volk vier keer aangemoedig om aan Hom vas te hou. Die Hebreeuse woord is” dabaq” Vir God se volk was dit ‘n integrale deel van hulle identiteit om aan God vas te hou. Hoe moes God se volk aan Hom vashou? Deur Sy gebooie na te kom. Deur gehoorsaam te wees sou hulle as volk wys dat hulle aan God verbind is.

Dit is steeds vandag vir ons ‘n uitnodiging om aan God gehoorsaam te wees. Juis in Lydenstyd word ons genooi om onsself die vraag te vra: “ Is ek met my hele hart en siel gehoorsaam aan God? Hoe lyk my lewe? Hou ek nog aan Hom vas en wys my lewe dit? “

Dink aan alles wat jou vashou aan God kan verswak? Dit wat ons verhouding met God verswak is sonde. Dit is dinge wat tussen ons en God kom. Dit dryf ons weg en bring skeiding tussen ons en God. Ek lees die volgende aanhaling van Augustinus raak: “Moenie die sondes gering ag waaraan jy miskien reeds gewoond geraak het nie. Want elke sonde word deur gewoonte onbeduidend en vir die mens so asof dit nie daar is nie.” Dit maak dat ons al minder aan God vashou.

GEBED

O Heer, vergewe my. O Heer, kom maak my vry van my sondeskuld. Ek wil my weer opnuut aan U verbind. Amen.