Vandag is Woensdag 16 Oktober. Hierdie week verken ons die verskillende aspekte van waterputte, elkeen wat ‘n spesifieke geestelike betekenis en toepassing vir ons lewens het, want waterputte dien as plekke van heilige ontmoetings, versorging en hernuwing.
Die waterput van Geleenthede – Rebekka se Ontmoeting
Skriflesing: Genesis 24:43-46
“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. Hier staan ek by die fontein waar ‘n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my ‘n bietjie water uit haar kruik te laat drink, en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.
“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met ‘n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog ‘n bietjie water!’ Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee.”
By die waterput het Abraham se kneg Rebekka ontmoet en sy sou Isak se vrou word. Hierdie put was nie net ‘n fisiese plek nie, maar ook ‘n plek waar God se planne ontvou het. Soms is ons ontmoetings by “waterputte” in ons lewens, plekke van “divine meetings” Heilige ontmoetings en geleenthede. Dink terug aan jou eie verhale van Heilige ontmoetings waar God jou kom verras het en stel jouself beskikbaar vir dié dag se ontmoetings wat voorlê.
Gebed:
Vader, maak my oë oop om die geleenthede wat U voor my plaas, raak te sien. Lei my soos U vir Abraham se kneg gelei het, en help my om U wil te herken in die eenvoudige, alledaagse oomblikke van my lewe. Amen.