Dagstuk | Woensdag 18 September 2024

Dagstuk | Dinsdag 17 September 2024
Dagstuk | Donderdag 19 September 2024

Matteus 7:13-14. Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen is breed, en die wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is die nou en die pad daarheen smal, en die wat dit kry, min.

Wanneer ons voor keuses in die lewe te staan kom is ons natuurlike ingesteldheid om vir die breë weg te kies. Die pad met die minste weerstand wat ons die vinnigste en met die minste moeite of weerstand by ons bestemming en doelwit sal uitbring. Toe Jesus  in die teks gekies het om die beeld te gebruik het hy meer in gedagte gehad as die eindpunt van hemel en hel. Hy wou met sy dissipels praat oor hulle ingesteldheid in die hede en hulle keuses wat daaruit voortvloei. Die skares wat saam met die dissipels om Jesus vergader het was mense wat armoede, seerkry en swaarkry beleef het. Hulle het nie die keuse gehad om iets makliker of gemakliker te kies nie. Wanneer Jesus hulle in Matteus 5 toespreek noem Hy hulle “geseënd”. Waarom is hulle geseën?

In Romeine 5 getuig Paulus hoe die Here in ons swaarkry ons in staat stel om te volhard en  hoe volharding egtheid van geloof en hoop kweek. Ons kan dit alles misloop deur die kortste en gemaklikste weg te kies. Mag ons elke dag met hierdie gedagte rekening hou waar ons keuses maak. En mag jy, waar jy jouself tans op die beproefde pad bevind, ervaar hoe die Here jou deur hierdie omstandighede sterk maak om uitdagings te oorbrug, maar ook om iets van nuwe waarde tot stand te bring.

Gebed

Goeie Vader, leer my dat mislukkings net so deel van die lewe is as sukses, en dat dat die uiteinde daarvan – goed of sleg – sal afhang van hoe ek daarop reageer. As ek dit bevrees of apaties benader, of kwaad of wrokkig, sal mislukking  mos inderdaad iets wees wat my vernietiging  sal beteken. Maar as U my die krag gee om uitdagings te beskou as waarskuwings of wegwysers hoe om vorentoe te lewe, dan is eerlike mislukkings mos beter as oneerlike sukses. Dan kan my en ander se foute mos deel wees van die leerplan in die skool waarin U my opgelei het om ‘n volwasse mens te wees. Dit is nie net altyd die vinniges wat wen nie, Here; die oorwinning word  nie net deur die sterkstes behaal nie. Dankie dat u gewone mense met min mag en krag, maar wat van U krag afhanklik is, kies en gebruik om die lewe heel en mooi te maak. Amen.