Dagstuk | Woensdag 23 April 2025

Dagstuk | Dinsdag 22 April 2025
Dagstuk | Donderdag 24 April 2025

Lukas 24:30

Ons teksgedeelte vertel die verhaal van die Emmausgangers. Hulle was deel van Jesus se groter dissipelgroep en was na die dramatiese gebeure van Jesus se kruisiging, tydens die Paasfees in Jerusalem, op pad huis toe. Tydens hulle reis hoor hulle die gerugte dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar dit is net ‘n gerug en vir hulle ver van die realiteit wat hulle beleef het. Dan sluit Jesus sluit by hulle aan, maar hulle herken hom nie. Soos wat hulle met Hom saam stap probeer hulle sin maak van alles wat gebeur het. Na die dag se bespiegelings eet Jesus die aand saam met hulle en die volgende gebeur:

Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood , vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het hom herken, maar Hy het van hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?

Waar is God teenwoordig? Die antwoord is altyd – hier! Hierdie belofte van Jesus se opstanding het ‘n radikale impak op hoe ons die hede en toekoms ingaan. Dit verander nie net ons hede en toekoms nie, maar ons beoordeling daarvan en hoe ons kies om daarbinne te leef. Te midde van ons onvermoë om van gebeure sin te maak, is die Here in dieselfde omstandighede by ons besig om ons harte warm te maak. Ons kan vashaak by die onsekerheid, vrees, woede en teleurstelling wat in ons leef oor gebeure in ons onlangse hede, of ons kan leef met die ingesteldheid: God is ook hier teenwoordig en toelaat dat die krag van Sy opstanding in hierdie emosies deurbreek. Hoe is die Here besig om jou in hierdie tyd op hierdie manier te ontmoet?

Gebed

Here, ons kom vandag in diepte van ons harte na U toe, in nederigheid en erkentlikheid vir U standvastige teenwoordigheid in ons lewens. Here, U is die lig in ons donkerste tye en die krag wanneer ons swak voel. Dankie dat U nooit van ons kant afwyk nie, selfs wanneer ons dwaal. Vader, ons bid dat U ons voortdurende gids en troos mag wees. Laat ons U stem in die stilte hoor en U teenwoordigheid in ons daaglikse oomblikke voel. Help ons om U wil te soek in alles wat ons doen, en lei ons op die pad van geregtigheid en vrede. Wys ons hoe ons U lig kan weerspieël in die wêreld rondom ons, sodat ons U liefde en genade kan deel met ander. Here, versterk ons geloof en vul ons harte met U hoop en liefde, sodat ons elke dag kan leef tot eer van U naam. Mag ons altyd bewus wees van U nabyheid en help ons om ons vertroue op U te stel in alle omstandighede. In U Seun, Jesus Christus, se naam bid ons dit alles. Amen.