Dagstuk | Woensdag 24 Januarie 2024

Dagstuk | Donderdag 25 Januarie 2024
Dagstuk | Dinsdag 23 Januarie 2024

Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.

Wat is die lewende water wat die Here ons kom aanbied? Die Samaritaanse vrou het met ‘n voor die hand liggende doel na die waterput gestap. Sy wou water skep vir haar huishouding. Water is die mees basiese lewensmiddel waarsonder ons nie kan oorleef nie. Vandag het ons die gemak om ‘n kraan oop te draai, maar in die tyd waarin die teksgedeelte geskryf is was water skep en die vervoer daarvan ‘n baie moeisame proses. Jy moes ver stap na die naaste waterbron in jou dorp en daagliks die roetine herhaal. Wanneer Jesus haar van die lewende water (bewegende water) vertel, dink sy Hy is besig om haar na ‘n waterbron nader aan haar huis te lei. Miskien het sy selfs gedink dat Jesus ‘n wonderwerk kan verrig wat haar nooit weer dors sal laat nie. Wat is die lewende water wat Jesus die Samaritaanse vrou aanbied? Ons sou kon oordeel dat Jesus haar in die oomblik tot bekering wou bring en haar die ewige lewe aanbied. Dit kan wel die geval wees, maar wat Jesus haar op die plek aanbied is God se genade. Hy begelei haar om te verstaan dat God vir haar in hierdie omstandighede omgee en kan help. Wat sy begin ervaar is hoe die Here haar deur sy genade na ‘n plek van vergifnis en vrede, wat haar lewe gaan verander, toe lei. Hoe is die ervaring van die Here se genade besig om jou lewe te raak? Hoe is dit besig om jou te verander en jou by ‘n plek uit te bring van vergifnis en vrede? Wat is die lewende water wat die Here jou aanbied?

Gebed

Here, ons kyk dikwels soekend om ons rond – ons smag na sin en vrede. Soos die Samaritaanse vrou voel ons oorval deur ons omstandighede en roetines. As gelowiges voel dit asof ons water drink wat nooit ons dors les nie. Here bring vandag in my die perspektief/uitsig dat U in die midde hiervan vir my iets anders aanbied. Iets wat ek nie met geld kan koop, of in my eie krag kan bekom nie, maar wat U sonder enige verdienste vir my vandag aanbied. U genade is vandag vir my genoeg. Amen.