Psalm 37:3. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.
Vandag se Psalms sluit nou aan by gister se teksgedeelte en gedagte, naamlik dat die Here ons in ons hede by ‘n plek uitbring om vergenoegd te lewe. Wat sou die alternatiewe opsie wees? Vanuit Psalm 37:1 is dit duidelik dat die persoon wat hier praat in die vrees en ontsteltenis van skelms en skurke leef. Net soos die persoon wat hier skryf hoop ons dat skelms en skurke sal boet vir hulle dade. Dit is immers tog waaroor geregtigheid gaan. Hierdie gedagte bring ons egter nie altyd by ‘n plek uit om rustig te woon en te werk nie. Die Psalm vra ons om nie self te vergeld of te oordeel nie, maar dit aan die Here, wat regverdig oordeel, oor te laat. Maar die getuienis in die teks vat ons dan nog ‘n stap verder. Ontsteltenis het die vermoë om in ons koppe was te haak en in ons reaksies uit te speel. Vandag se teks lei ons om midde in tye van krisis en ontsteltenis op God te vertrou, maar ook om te midde daarvan op ‘n positiewe en opbouende wyse na buite te leef. Dit is maklik om te verklaar dat ek op God vertrou, maar veel moeiliker om midde van hierdie belydenis nie in die slaggat van vergelding te trap nie. Wat is die ontsteltenis wat in jou leef? Hoe is dit besig om jou gedrag te bepaal? Hoe praat die Here vandag met jou oor wat jou te doen staan?
Gebed
Here, daar is soveel wat ek vandag vrees. My gedagtes word in hierdie dag gedomineer deur onreg en die wyse waarop ek hoop skuldiges vir hulle dade sal boet. Dit maak dat ek onrustig leef en werk. Here, ek bid dikwels dat U my sal verlos van die mense wat boos is, maar in my dra ek gedagtes van vergelding wat my baie onrustig maak waar ek woon en werk. Here, ek gee vandag hierdie hede en toekoms in U hande en regverdige oordeel oor, maar ek glo ook dat U my die krag gee wat my in staat stel om dit wat boos, stukkend en seer is te transformeer. Amen.