Dagstuk | Woensdag 3 Januarie 2024

Dagstuk | Donderdag 4 Januarie 2024
Dagstuk | Dinsdag 2 Januarie 2024

 

Teksvers: Filipense 1:9

“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”

Die teoloog, Dirkie Smit, skyf hieroor dat saam met perspektief in die lewe kom prioriteite. Hoe ons na mense en dinge kyk, bepaal wat vir ons gewig dra, of nie. Wat en wie ons sien en nie sien nie, het baie te make met ons prioriteite, met die waarde wat ons aan hulle toeken – of ons dit besef, of nie.

Hy verduidelik verder en sê, priotiteite dui letterlik op volgorde, rangorde, voor-in-die-ry, of ver-agter-en-onopmerklik-agter-in-die-tou. Dit sê hy is juis die punt. Wie omloop en van ’n ander kant af kyk, se volgorde word ook anders. Laaste word dan eerste. Prioriteit sit nie in waarna gekyk word nie, maar in wie kyk. In wie ons is en waar ons staan. Ek dink dis ook so in die lewe. Veral so aan die begin van ’n jaar waar ons die geleentheid kry om net effe anders te leer kyk. Wat laasjaar so gewigtig was, so allesoorheersend, hoef nie meer te wees nie.

Ek dink dis ook Paulus se punt as hy bid dat ons liefde sal toeneem, sodat ons kan onderskei wat regtig saak maak. Die vreemde is dat hy sê daarvoor moet ons liefde toeneem. Dit is asof dit oë van liefde is wat perspektief bring, prioriteite verander, ons anders kan laat kyk – na alles en almal. Mag ons hierdie uitnodiging ontvang en deelmaak van ons lewe.