Romeine 8:22. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ons wat die Gees ontvang het as eerste gawe van God, ons sug ook.
Wat het Paulus bedoel met die uitspraak dat die skepping in pyne van verwagting sug? Ons aanvaar die natuur as vanselfsprekend. Wanneer ‘n mens egter natuurprogramme kyk wat ons dieper intrek in die geheimenis van biologiese lewe wat in die moeilikste en mees onverwagte omstandighede oorleef, staan ‘n mens verstom oor wat werklik elke dag rondom ons afspeel. Wanneer Paulus oor die skepping praat wat sug gaan dit oor die verwondering van God wat die skepping te midde van uitdagings laat herleef. En hierdie gedagte oorweldig ons eie ervarings van doodsheid en moedeloosheid wat as gevolg van omstandighede oor ons eie pad kom. Hoe is die Here besig om in hierdie tyd saam met jou te reis waar jy by mense en plekke kom? Laat jou toe om meer te sien as net die probleme en frustrasies wat in jou leef, maar laat die sug van die skepping in jou eie hart resoneer en asem die hoop van God wat laat herlewe in.
Gebed
Here, Bron van Lewe,
U maak die winter omswaai na lente,
U bring nuwe lote uit droë grond,
en laat water weer vloei in dor woestyne.
So kom U ook na ons lewens,
waar hartseer en stukkend-wees bly lê,
en U fluister: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
Dankie vir die hoop dat die dood nie die laaste woord het nie,
dat donkerte plek maak vir lig,
en dat U elke dag ons lewens kan vernuwe
met genade, vrede en vreugde.
Laat ons nooit die tekens van nuwe lewe miskyk nie –
’n blom wat oopgaan,
’n voël se sang,
’n kind se lag –
alles herinner ons daaraan
dat U ’n God van herstel en hoop is.
Hou ons vas in hierdie sekerheid:
soos die skepping herleef,
sal ons ook in Christus herleef.
Amen.