2 Korintiërs 5:17 Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. Hy het ons deur Christus met Himself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.
Ons week se dagstukkies volg baie mooi op mekaar. Gister het dit gegaan oor die Here wat ons deur die Bybel, gebed, studie en nadenke lei om met insig in ons hede op te tree. In vandag se gedeelte praat Paulus op ‘n baie eenvoudige manier verder hieroor met ons. Ons het aan die begin van die week gepraat oor die begrip Semper Reformanda wat uit die Reformasie gebore is en die realiteit by gelowiges wakker gemaak het dat God ons roep om voortdurend te vernuwe en die wyse waarop sy Gees ons inspireer om ons hede te onderskei.
In vandag se teks praat Paulus met ons oor ‘n baie spesifieke uitkoms. In die Onse Vader gebed leer Jesus ons bid: “vergeef ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree het”. Net soos wat God ons sondes versoen word ons gevra om dieselfde teenoor ander te doen. Paulus se teks vandag in 2 Kor. 5 is radikaal want dit vra ons om vanuit die dankbaarheid van ons eie vergifnis teenoor ander op te tree en nie in reaksie op ons drome, ambisie, woede of frustrasie nie. Ook nie uit die suiwer bedoeling om reg te laat geskied nie, want al klink dit hoe vroom kan ons in die doen van reg nie versoening laat geskied nie. Die begrip ‘soen’ in ‘versoen’ help vir my om aan hierdie dieper dimensie van ons verhouding met God en ander uitdrukking te gee. Dit is ‘n voortdurende uitreik oor skynbare grense wat vel by vel (soen) uitbring om ‘n groter realiteit oop te breek.
Het jy al jouself in die situasie bevind waar ‘n intense rusie onverwags in trane en omhelsing uitloop? Ons almal het dit tog al iewers beleef en hoe dié oomblik skielik ons gevestigde opinies en standpunte oor die situarie en mekaar verander. Dink vandag hieroor: Hoe kan iets wat tog so maklik en naby is vir ons so moeilik wees? Ek wil afsluit met ‘n gebed, of eintlik ‘n getuienis van wyle eerwaarde Desmond Tutu.
Gebed
Goodness is stronger than evil;
Love is stronger than hate;
Light is stronger than darkness;
Life is stronger than death;
Victory is ours through Him who loves us.