Exodus 12:7–8
“En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.
8 En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.”
Boodskap
Ons as mense vergeet maklik — veral die mooi en betekenisvolle dinge. Ja, ons onthou dikwels eerder die negatiewe en slegte dinge. Dis asof die negatiewe makliker by ons vassteek, dat ons dit makliker herroep en moeiliker vergeet. Net so vergeet ons ook gou God se grootheid en genade in die verloop van ons lewe.
Ons leef in ’n tyd waar ons voortdurend gebombardeer word met negatiewe nuus. Wanneer ons hoor van nog ’n plaasmoord, nog ’n geval van staatskaping of bendegeweld, raak dit moeilik om op die positiewe te fokus en dit raak te sien.
Dit is verstaanbaar dat Christene ook in vrees en onsekerheid begin leef. Ons is nie immuun teen hierdie dinge nie. Baie gelowiges erken dat hulle deur die ergste storms van hul lewe gaan. Hulle beskryf finansiële krisisse, spanning in families en onsekerheid oor ons land en politieke leiers as redes waarom hulle begin twyfel. Baie van God se mense roep uit:
“Here, dit is genoeg. U Woord belowe verlossing. U het gesê dat U nie sal toelaat dat ek meer as wat ek kan verdra sal ly nie, en dat U vir my uitkoms sal beskik. Maar waar is die uitkoms? Waar is U grootheid te midde van my grootste beproewing?”
Die volk Israel het hierdie mismoedigheid goed geken. Hulle was onderdruk deur ’n gewetenlose farao wat hulle as slawe mishandel het. Die uitverkore volk van God het geen mag, krag of seggenskap in Egipte gehad nie. Meegesleur deur moedeloosheid het hulle selfs dikwels hulp gesoek by Egiptiese gode. Maar God het nie Sy volk vergeet nie. Hy het hulle hulpgeroep gehoor, hulle swaarkry gesien — en Hy het ingegryp.
Om hulle te herinner aan Sy grootheid en dat die verlossing uit Sy mag en krag kom, het Hy ’n fees ingestel om hulle daaraan te herinner — sodat hulle dit nooit sou vergeet nie.
Ons vier nie meer die Pasga soos die Joodse volk nie, maar elke Sondag vier ons steeds fees. Elke erediens herinner ons aan die Here se liefde en trou. Wanneer ons saam nagmaal gebruik, die doop vier of Christelike feesdae onderhou, is dit alles geleenthede om te onthou: God is met ons.
Die Christelike feeste en eredienste vier God se verlossingswerk. Ten diepste is die erediens en ander feeste ’n gemeenskaplike viering van verlossing — die verlossing wat Jesus Christus vir ons bewerk het.
In die wêreld daar buite, met al sy krisisse en tragiese gebeure, verloor gelowiges maklik hul hoop. Soveel dinge verander binne ons wanneer ons net die negatiewe hoor. En êrens langs die pad vergeet ons van die Here se grootheid en genade in ons eie lewensverhaal.
Daarom mag ek en jy elke Sondag saam fees vier met ander gelowiges — om herinner te word aan God se liefde en beloftes. Die gemeenskap van gelowiges is daar om ons saam te bind as God se volk — die volk met wie Hy steeds ’n pad stap, en wat Hy nooit vergeet het nie.
Jesaja 43:1–3
“Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou; Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne.
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou; deur riviere — hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.”
Gebed
Dankie, Here, dat U my telkens herinner aan U getrouheid in my lewe.
Ek herinner myself opnuut daaraan dat U ’n getroue God is wat nooit U handewerk laat vaar nie.
Amen.