Dagstuk | Maandag 3 Maart 2025

Dagstuk | Saterdag 1 Maart 2025
Dagstuk | Dinsdag 4 Maart 2024

Vandag is Maandag 3 Maart en hierdie week is ons op reis na komende Sondag as die eerste Sondag van Lydenstyd waar ons Sondag na Sondag, week na week een van die sewe kerse doodblaas oppad na Paasnaweek.

Vandag se teks is Genesis 3:19 “Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Lydenstyd is nie net ’n tydperk om die lyding van Jesus te gedenk, of net daarop te fokus nie, maar om ’n deelgenoot met Jesus te wees in sy lyding. Ons gaan op Aswoensdag met ons voorbereidingstyd Lydentyd en vir Paasfees begin; ‘n seisoen van 46 dae waarin die kerk met dankbaarheid, erns en pyn die kruis van Jesus vier; dit wat vir ons verlossing bewerkstellig het.

Op Aswoensdag, kom ek in kontak met die lyding van menswees – dat ek stoflik is. Dat ek nietig is. Van die oomblik wat ons ons moeder se baarmoeder verlaat het, het ons die sterwensproses begin. Die kwesbaarheid van my menslikheid – my verliese, die vlees, sonde – help my om agter te kom dat daar lyding in my lewe is wat ek moet van ontslae raak. Maar daar is ’n lyding wat lei na groei en ek moet dit aanvaar. Dit is ’n groot beweging van die vlees na die gees en vra onderskeiding.

Jy word dus uitgenooi na ‘n tyd van voorbereiding en hertoewyding. Ons maak plek om God, onsself en ander mense te kan hoor. Die geestelike dissiplines/gewoontes, wat spesifiek met Lydenstyd vereenselwig word, is: verootmoediging en skuldbelydenis. Dit is so ‘n voorreg om aan ‘n kerkseisoen deel te neem wat al vir eeue deur ons geloofsgenote gebruik word. Ons vier Lydenstyd met ‘n bewustheid dat broers en susters in gemeentes oor die wêreld heen dit saam met ons vier. Hierdie tyd bied ‘n geleentheid om gestroop te word van al die onnodige stemme en invloede wat ons aandag aftrek van Christus in ons lewens. Die kruis herinner ons weer en weer dat daar geen skeiding is tussen ons en God nie – die skeiding is gestroop.

Gebed: Here, berei my hele menswees voor vir hierdie seisoen oppad na die kruis. Amen.