Dagstuk | Vrydag 19 Julie 2024

Donderdag 18 Julie 2024
Dagstuk | Saterdag 20 Julie 2024

Hierdie week reis ons deur die storie van Saggeus. Vandag reflekteer ons vêrder oor die volgende gedeelte van die verhaal van Saggeus.

Lukas 19:8

Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

 

Refleksie

Een van die maniere waarop Saggeus reageer op sy ontmoeting met Jesus, is om vrygewig te wees.  Terwyl die wêreld ons aanmoedig om ons eie rykdom te verwerf en soveel as moontlik vir onsself bymekaar te maak, selfs partykeer ten koste van ander, inspireer Jesus se liefde ons om vrygewig te wees.  Wanneer ons Jesus se liefde ontvang, kan ons amper nie anders as om dit weer uit te deel nie, in verskillende vorme nie. Vir Saggeus was dit in die vorm van besittings en geld, maar vrygewigheid kan ’n klomp verskillende vorme aanneem. En hoe meer jy Jesus se liefde uitdeel, hoe meer van sy liefde ervaar jy.

Dit is iets waarvan Stellenberg se uitreikspanne elke jaar opnuut bewus word. Die uitreikspanne vertrek met die gedagte om liefde in verskillende vorme te gaan gee, maar kom terug en sê dat hulle soveel meer ontvang het as wat hulle gegee het.

Reflekteer vandag oor die volgende:

  • Dink terug aan die laaste keer wat jy ’n geskenk ontvang het, of waar iemand vrygewig was teenoor jou. Hoe het dit jou laat voel?
  • Dink terug aan die laaste keer wat jy vrygewig was teenoor iemand anders. Hoe het dit jou laat voel?
  • Hoe kan ek meer vrygewig wees in my daaglikse lewe?

Ons sluit vandag af met ’n gebed van Franciscus van Assisi.

Gebed

Here, maak my ‘n instrument van u vrede.

Waar daar haat is, laat ek liefde saai;

waar daar verwonding is, vergifnis;

waar daar twyfel is, geloof;

waar daar wanhoop is, hoop;

waar daar duisternis is, lig;

en waar daar hartseer is, vreugde.

 

O Heer, gee dat ek nie soseer mag soek

om getroos te word as te troos nie;

om verstaan te word as om te verstaan nie;

om liefgehê te word as om lief te hê nie.

Want dit deur te die gee wat ons ontvang;

dit is in begenadiging dat ons begenadig word;

en dit is deur te sterf dat ons gebore word tot die ewige lewe.

 

Amen