Uitreike: Leeu-Gamka en Calitzdorp

Luister na ons potgooie
Maak ‘n verskil
Raak asseblief by ons winteruitreike betrokke:
Skenk asseblief die volgende en gee bydraes by kerkkantoor af:
  • Koekies en beskuit vir die uitreikspanne.
  • 4-in-1-sopmengselpakkies, hawermout.
  • Sagte speelgoed of teddiebere vir kinders.
  • Verfkwaste of rollers en 20 liter-blikke verf.
  • Sepies en waslappe of enige ander sanitêre ware vir besoeke aan ouetehuise.
  • Skeermesse, skeerroom en haarsjampoe.
  • Sokker-, netbal-, of rugbyballe en ander sporttoerusting.
  • Warm klere, komberse en skoene (veral skoolskoene).

Maak ’n finansiële bydrae tot die onkoste verbonde aan die uitreike.  Rekeningbesonderhede:  Absa 9287 59 2857, takkode 632005. Gebruik UITREIKE as verwysing.

Navrae: sunet@stellenberg.co.za

2024 Uitreik video

Algemene Vrae

1. Is die uitreike net vir tieners?

Nee, die uitreike is vir enige iemand! Hoewel ons bevoorreg is om elke jaar ’n klomp tieners en studente deel te hê van die span, is enige iemand welkom om in te skryf. Ons nooi spesifiek tieners uit om in te skryf, maar volwassenes speel ’n kardinale rol op die uitreike. Daarom is studente, ouers of ander volwassenes meer as welkom om in te skryf vir die uitreike en deel te vorm van die span! Die span bestaan gewoonlik uit omtrent helfte tieners en helfte studente/volwassenes, wat beteken die tieners wat saam gaan het baie goeie volwasse ondersteuning!

Die uitreik program is ook divers en fokus op verskillende areas van die gemeenskappe waar ons betrokke is, van kinder- en tienerprogramme en leierskapsontwikkeling, tot musiek, verf en kosmaak. Daar is ook ’n groot span mense wat agter die skerms die uitreike ondersteun. Dit beteken dat, maak nie saak wat jou gawe is nie, daar ’n plek vir jou as deel van die span is.

2. Hou oud moet ek wees om op ’n uitreik te gaan?

Enige iemand bo die ouderdom van 14 kan op hulle eie inskryf. Kinders jonger as 14 is welkom om te kom indien hulle gesin saamkom op die uitreik. Wat tieners betref, bestaan grootste gedeelte van die span gewoonlik uit Gr 10-12 tieners, maar ons moedig ook Gr 8 en 9s aan om saam te kom! Hoe vroeër jy begin uitreik, hoe beter! Weereens is daar ook studente en volwassenes wat elke jaar saamkom, so jy is ook nooit te oud om saam te kom nie!

3. Waar bly ons op ’n uitreik?

Die uitreikspanne gaan tuis in skoolkoshuise op die dorp. Mans en vrouens bly in aparte kamers, met 3-4 mense wat ’n kamer deel. Die koshuise word gesluit wanneer ons met die program besig is, so al jou goedjies is ook veilig. Ons bly lekker! Die verblyf op ’n uitreik is wel basies (moet nie ’n 5ster hotelkamer verwag nie) en om as span in die koshuis te bly is deel van wat die uitreik ervaring so spesiaal maak!

4. Is dit veilig?

Een van die dinge wat jou die meeste verras wanneer jy die eerste keer op ’n uitreik kom, is hoe vriendelik en gasvry die gemeenskappe teenoor ons is en hoe gemaklik dit voel om in die dorpe rond te beweeg. Die areas waar die programme aangebied word, is ook beveilig (die kinderprogramme word bv. op die skoolterrein aangebied in Leeu-Gamka en in die omheinde speelpark van ’n boer in Calitzdorp). Om die spanne so veilig as moontlik te hou, is daar ook belangrike reëls wat toegepas word, byvoorbeeld dat niemand alleen met iemand gesels of iewers beweeg nie. Hoewel dit reeds veilig is, is dit besef hoe die gemeenskap lyk waarheen ons gaan en doen ons moeite om die span vooraf voor te berei om dit so veilig as moontlik vir almal te maak.

5. Hoe kom ons daar?

Ons gebruik die kerk se bussies, asook ekstra voertuie van volwassenes wat saamgaan om die span te vervoer. Ons maak seker dat die tieners wat saamgaan saam in die kerk se bussies ry, met studente wat met hul eie voertuie ry indien nodig.

6. Hoe lyk ’n dag op ’n uitreik?

“So wat doen Stellenberg en wat inspireer hulle? Die antwoord dink ek is hulle verryk elke persoon se lewe met wie hul in aanraking kom, en hulle word deur Jesus geïnspireer.” – Nathan Anthonie, Leeu-Gamka

Die uitreike het gewoonlik 3 hoof komponente, nl. ’n Kinderprogram, tienerprogram en gemeenskap projekte. Tussendeur speel ons ook sport, besoek klinieke, ouetehuise en kerke en so meer.

Die kern van die uitreike is om verhoudings te bou met mense uit ’n ander gemeenskap en in te bou in mekaar se lewens.  Die program word aangepas op grond van die gawes van die span wat saamgaan. As jy byvoorbeeld nie ’n gawe het om met kinders te werk nie, maar eerder om groentetuine te plant of herstelwerk te doen, of enige iets anders, gesels gerus met ons oor hoe jy betrokke kan raak!

7. Ek wil gaan, maar kan nie die inskrywingsgeld betaal nie.

Daar is beperkte hoeveelheid borge beskikbaar vir mense wat graag wil saamgaan, maar nie die volle koste kan betaal nie. Gesels gerus met ons! Indien jy die uitreik wil ondersteun deur iemand te borg, gesels ook gerus met ons.

8. Hoekom uitreik?

Genesis 12:2: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.”

Heel aan die begin van die Bybel, in Genesis, sien ons dat God kies om saam met mense ’n pad te stap. God kies om in en deur ’n vennootskap met mense herstel te bring aan ’n stukkende wêreld. God seën vir Abraham, om tot ’n seën van ander te wees. In Stellenberg Gemeente is ons diep bewus daarvan dat die Here ons gemeente seën en dat ons tot ’n seën vir ander moet wees. Die uitreike gee ons die geleentheid om op ’n tasbare manier ’n seën te wees vir ander.

’n Bietjie later in die verhaal van Abraham, in Genesis 18, sien ons hoe Abraham sy hart oopmaak vir drie vreemdelinge. Abraham betoon gasvryheid teenoor hierdie vreemdelinge, berei ’n ete voor en nooi hulle om saam met hom te eet. In hierdie verhaal word dit stelselmatig duidelik dat Abraham ’n ontmoeting met God het in hierdie vreemdelinge en dat hy veel meer ontvang as wat hy vir die vreemdelinge gebied het. Daar is menigte ander verhale waar mense ’n ontmoeting met God het wanneer hulle hul harte oopmaak vir die vreemdeling, vir ander en veel meer ontvang as wat hulle gee. As ’n mens luister na stories van uitreikers van vorige uitreike, dan word dit duidelik dat die uitreik spanne dikwels ook veel meer ontvang as wat hulle gee en dat hulle dikwels vir God op onverwagse plekke en mense ontmoet tydens die uitreike. Jesus herinner ons ook meer as een maal daaraan: “wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees.” (vgl. Markus 10:31).

Daarom gaan ons nie op die uitreike met die vooronderstelling dat ons al die antwoorde het nie, maar eerder met ’n openheid om God in en saam met ander te ontmoet. Op die uitreike maak ons vriende en bou verhoudings met mense uit ander kontekste, kulture en gemeenskappe en bedien ons mekaar met die gawes wat die Here ons gegee het om sy Koninkryk sigbaar te maak.

Die uitreike bied ’n waardevolle geleentheid om te groei in jou eie geloof en terselfdertyd saam met ander te bou aan die Koninkryk van God in Suid-Afrika.