Na ’n lang en kleurryke loopbaan ontvang dr. Braam Hanekom op Sondag 13 April, tydens die oggenddiens, demissie van die Sinode. Braam was voorheen een van Stellenberg-gemeente se voltydse leraars en ons het in Mei 2014 van hom afskeid geneem nadat hy deur die Wes-Kaap se Sinode in diens geneem is. Hy tree einde April as die Direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis af. Stellenberg-weekliks het met hom oor sy interessante en suksesvolle loopbaan gesels.
“Ek is na skool gekeur om medies te studeer en het aanvanklik as mediese student ingeval, maar na ’n dramatiese ervaring in die begin van my eerste jaar het ek besluit om van kursus te verander en in diens van die Here teologie te gaan studeer,” sê Braam. “Toe ek my weer kom kry, het ek die chemieklas vir ’n Grieksklas verruil en die res was soos hulle sê . . . geskiedenis.”
“Na my studies en diensplig het ek as leraar van die Studentekerk, Stellenbosch, begin werk. Ek het sewe wonderlike jare daar beleef en sal altyd aan daardie tyd terugdink as een van die hoogtepunte van my bediening, maar daar het later ’n rusteloosheid in my posgevat en in 1993 is ek uitgenooi om my CV by Stellenberg-gemeente in te dien. Ek het dit gedoen en dit was die begin van ’n baie geseënde bediening in Stellenberg-gemeente. Wanneer ek nadink oor die jare in Stellenberg-gemeente, is die mense ongetwyfeld die een ding wat vir my uitstaan. Ek en Mariette het wonderlike mense in die gemeente leer ken. Ons het ons kinders in dié gemeenskap grootgemaak en kosbare vriende gemaak, met wie ons vandag steeds hegte bande het. Ek dink ook terug aan die baie konferensies, Pinksterreekse en projekte wat ons met oorgawe in die gemeente aangepak het – altyd saam met ’n wonderlike span helpers. Stellenbergers is pragmatiese doeners. Ek het dikwels gespot en gesê wanneer ’n mens iets in Stellenbosch gedoen wil hê, nooi jy ’n klomp slim mense na ’n vergadering toe, waar baie planne gemaak word en dan na die beplanning kyk almal na mekaar en vra, wie gaan dit nou doen? Maar Stellenbergers is anders – hulle kan planne maak én dit uitvoer.”
Braam is ’n gesoute skrywer wat oor die jare heen nege boeke gepubliseer het en ’n ontelbare hoeveelheid rubrieke het ook al uit sy pen gevloei. Hy skryf steeds gereeld rubrieke vir Netwerk24. Hy vertel dat die skrywery toevallig begin het. “Ek wou in my bedieningstyd by die Studentekerk, vreeslik graag tydens my langverlof ’n kwartaal oorsee gaan werk, maar dinge wou net nie uitwerk nie en die deure het een na die ander toegeklap. Soveel so, dat ek toe uiteindelik besluit het om die kwartaal in Kleinmond deur te bring en te probeer skryf. Daar skryf ek toe my heel eerste boek Hoe leer ons kinders glo? Die skrywery was uiteindelik ’n heerlike verrassing waarmee die Here my bederf het.”
In 2014 het Braam op deeltydse basis by die Wes-Kaap se Sinodale kantoor betrokke geraak. Aanvanklik is hy genader om by nuwegemeenteontwikkeling werksaam te wees. “Die bedoeling was om nuwe gemeentes te stig en gemeentes wat stagneer het, of aan die kwyn was, weer op die been te kry,” sê Braam. “Ek dink terug aan gemeentes soos Parklands, Maitland en Ysterplaat wat ons uit die kake van die dood gered het, en wat tot vandag toe wonderlike werk in hul onderskeie gemeenskappe doen. Daarna het ek by die kantoor vir Armoede en Sorg, nou bekend as Diakonia, ingeskakel, waar ek die barmhartigheidswerk wat oor die hele land heen deur die NG Kerk gedoen word, van naderby leer ken het, en met die knellende armoede wat in Suid-Afrika heers, kennis gemaak het.
“Sedert 2014 is ek by die Sentrum vir Publieke Getuienis werksaam wat my aan die reine werklikheid van Suid-Afrika blootgestel het. Ons het onlangs in Gqeberha die honderdste dialoog met gemeenskappe regoor die land gevoer. Vanuit dié gesprekke het dit vir my duidelik geword dat op voetsoolvlak is armoede, werkloosheid, misdaad en geweld, asook die onsekerheid oor die jeug, die dringendste sake en word deur gewone landsburgers as prioriteite beskou. Dit lyk waarskynlik heeltemal anders as die politici se prioriteitslys. Ek is ook vandag daarvan oortuig dat die kerk geroepe is om by die wêreld sigself betrokke te raak. Ons het onlangs ’n wonderlike leierskapskursus in Stellenberg-gemeente, genaamd In-Christus-leierskap, deurloop, maar ek wil dit verder uitbrei na In-karnasie-leierskap. Wat ek daarmee bedoel, is dat ons as Christene in die wêreld moet leef. Ons moet deur Christus in dié wêreld ’n verskil kan maak.
“Het ek hoop vir Suid-Afrika? Inderdaad – daar is wonderlike mense in Suid-Afrika. Ons hoor hulle ongelukkig nie altyd duidelik genoeg nie, omdat die politici en media so oorverdowend raas, maar ek het tydens gemeenskapsgesprekke nagenoeg 4 000 mense vanoor die hele spektrum heen en regoor die hele land ontmoet en almal wil hê Suid-Afrika moet ’n sukses wees. Ons land is ryk aan minerale en hulpbronne, maar, en ek is nie meer skaam om dit te sê nie, ons huidige regering het ons deur middel van swak beleid in ’n armoedeknyptang laat beland, maar ek glo dit kan omgekeer word.”
Op die vraag of hy mentors in sy lewe gehad het, noem hy verskeie name. “Ek dink aan mense soos Coenie Burger, my eerste kollega en dan leierouderlinge soos Jean de Villiers en Gideon Pieterse wat vir my veilige ruimtes geskep het. My ma se tweede man, professor Jaap Durand, was ongetwyfeld ’n ongelooflike mentor in my lewe en dan natuurlik ook my ma – ’n wonderlike ma vir wie ek baie lief is.”
Braam het tydens die Covid-19-pandemie vertel hoe hy tydens die inperking vir sy kleinkinders voor slaaptyd Jakkals-en-Wolf-stories oor die telefoon gelees het en hy sê dat oor kleinkinders kan hy eintlik net sê dat dit nog meer spesiaal is as waarop ander mense jou voorberei. “Kleinkinders is ’n ongelooflike skat en seëning in ’n oupa en ouma se lewe en ek is geweldig lief vir hulle. Ek kan eintlik nie die emosies wat hulle by ’n mens laat opwel, beskryf nie. En ja – ek lees steeds baie Jakkals-en-Wolf-stories.”
Oor sy aftrede en die nuwe seisoen in sy lewe is hy baie opgewonde. “Ek wil graag meer gholf speel, reis, skryf en ook preek. Ek sal ook voortgaan met konsultasiegesprekke. Vir jongmense wat tans besig is om aan ’n loopbaan te bou, het hy dié raad: “Bly besig, werk hard, bou netwerke, bly naby die Gees, bly weg van versoekings en moet nooit jou integriteit laat skade ly nie.”
Braam sluit af met die volgende: “Ek kan met eerlikheid sê dat die mooitste goed wat met my in die lewe gebeur het, nie goed was wat ek self beplan het, of uitgedink het nie – dit was altyd verrassings wat ek uit die Here se hand ontvang het. Ek is vandag ’n diep dankbare en gelukkige mens. Die Here se genade was ontsaglik groot in my lewe – ek is gelukkig, ek voel geseënd, ek het geen bitterheid nie, ek is net ’n diep dankbare mens.”